sout+peper 2 hoofstuk 1


hoofstuk 1

kerk

sondag is die groot dag van die week. dan word die kisklere uitgehaal [die ou mense het hul sondagklere in ‘n kis gebere, vandaar die naam daarvoor], daar word van vroemore of al gewas, die krullers kom uit die hare uit, die lipstiek kom op my ma se lippe en die perfume word aangespuit, want ses dae moet jy arbei, maar op die siewende dag moet jy rus en jou Herder dien. jy en jou hiele gesin, want dit is die dag van die Here.

ons ry met die donkiekar tot by die kerk. ons donkies se name is skeweoor en hardlawaai. ons kerk is vir die plaasmense – oumies en oubaas en hul kinders gaat na die dorp se kerk.

die jaart by die kerk is vol klippers dus trap jy hoog, want jy dra jou kerkskoene.  my pa se skoene is blink gepolish, sy suit sit mooi, die hemp se skawemerke wys agter in sy nek. sy hoed is skoongeborsel en daar pronk ‘n nuwe tinktinkieveer daarin.

my ma dra haar sagte blou krimpelienrok met die wit gehekelde kraag wat sy by haarse ma geerf het.

ouma kon vrieslik mooi hekel, sy het by oumies se ma geleer en sy het baie van oumies se tafellappies gehekel – so vertel mamma.

die rok span styf hier om my ma se heupe, haar groot borste skoppelmaai  een vir jou een vir my soos sy stap. haar reguit hare is mooi netjies vasgetrek agter teen haar kop. die wit hoed vasgesteek met ‘n haarspeld.

ek kyk hoe haar enkels swel bo haar swart skoene uit, saam met die spatare wat om haar bene soos bobbejaantou klim.

die kinders, is nou ons drie, stap half skoor agter pa-goed. die kerkklok lui hier bo ons ore en pa draai half omgealie om en sê : “kom nou jas, mietha, grietha goed”  dominees staan voor by die deur – op die hoogste trap, hy groet ma, pa en dan elke kind in volgorde van sy geboortejaar – vir grietha laaste, want sy is mos die kleinste, ek is die middelste en jas is die oudste.

in die kerk staan die preekstoel met die woorde : God slaap nie. ek weet nie hoe God dit hou nie, want ek raak so vaak as ek nie genoeg slaap nie, dat my oë aan die brand wil slaan.

daar is ‘n antie wat die traporrel speel en ons sing altyd soos ‘n ou trekklavier agter haar note aan: Nader my God by U. my ma sing voor, grietha kan nog nie sing nie – sy moet stilbly.

die dominee maak my bang. hy moet die evangelie van die Jirre verkondig, maar hy praat so hard van God se straf. dan wys sy vingers bo in die lig en dan slaan hy met sy hand op die God slaap nie, preekstoel. soms skrik ek so groot, dat ek onder die bank wegkruip.

ek hou die meeste van die kinderpreke want dan is dominees se stem sag en hy bring altyd ‘n pop, of ‘n dier, of ‘n duif of iets buite die kerk saam.

ek probeer hard om te luister na die preek, want ek is bang vir God se straf, maar ai – moet net nie vir ma se nie – my gedagtes is buite saam met die duiwe in die bome. en die praat maak my vaak, ek wil net slaap. my ma tik my aan my skouer as my jis uit die bank uitgly.

my hare wat so krul maak my mal, ma stryk my hare, ma sit straightner op, ma maak dit vas met rekkies op my kop, dan trek ma haar ou sykous oor.

Ai, Jirre bid ek elke sondag as ek op die harde kerkbank gaat sit – gee tog laat my hare reguit raak – seblief tog Jirre – ek vra dit nie omdat ek dit verdien nie – maar om genade alleen – seblief.

elke sondag bid ek vir my hare se reguit. kom sondagaand klim ek vroeg in die kooi agter my sussie se rug in, met die wete dat die Jirre more, as ek wakker word, dalk my hare reguit sal gemaak het.

ek is ‘n kindjie
klein en teer,
maak my hartjie
rein, o! Heer,
dat niemand
daarin woon nie
as U alleen, o Heer
.

Hy kan wiet ma – is Hy kan – Hy het dan water na wyn geverander, vir baie honger mense brood en vis uitgediel, op die see se water geloop, mense gesond gemaak – sommer net so – so as ek nou mooi genoeg vra en soebat; Jirre, seblief tog toe maak myse hare reguit, dan sal hy mos luister, né ma.

ma weet die Jirre hoor elke dag so baie gebede en ek dink nie hy kom by almal sin uit nie ma, ek dink ook dat oumies se witmense se gebede voor staan en ons bruinmense s’n agter, maar weet ma as ek nou vroeg genoeg en mooi genoeg bid – kan ek net dalk eendag voor in die ry kom met my gebed voor God gaan slaap.

my ma kyk my die kant en daai kant toe en sê: die Jirre het jou gemaak soes jy is – laat staat jou hare – jy is mooi soes jy is. ek staan en kyk ma aan met myse blou oë. “ag, Jirre ma“ my ma mik na my kant toe met die vadoek : “lat staan jou bekkigheid, klein aapstert, jas patat !“, sy mis my boude net – net en sê vir my: “kom sit my kind”.

sy gooi vir ons oros en water. my kind jou bloed is deurmekaar – daar is wit afrikaner daarin, swartmens, franse, hollandse en ook maleisiese bloed. is die dat jou hare so ferfomfaai is, jou bruinkop wat kroes soos ‘n seespons. maar in jou twee oë kan ek jou siel lees. jou oë is die kleur van jou oupa sin – blou.

ek kyk my ma en sê: ma, ma wie is my oupa dan. my ma kyk my – haar oë is stil. sy kyk verby my vir die dorp se kerk almanak met die toring en sê: my kind – hy’s lankal dood. maar sy kyk nie in myse oë nie. ek ken ma as sy soe kyk : sy lieg.

ek staan op, skuif my stoel terug en los my ma alleen by die groen melamientafel sit. my ma se boude hang oor die stoel se sitplek. haar skouers lê vorentoe. sy sug. ek stap uit en maak die agterdeur se bo-deur toe, agter myse gat.

nota – om jou hare te laat groei

 

meng 1 eetlepel parafien, brandewyn en kasterolie tot ‘n pasta. smeer jou kop ordentlik – trek ’n plastieksak oor en gaan sit in die son. was uit en gebruik soos nodig.

 

Op skoon blad oorkant die teks

halleluja 286 

 

1. doen slegs U wil, Heer, U wil met my,

U, pottebakker, met my, die klei;

vorm my en maak my net soos U wil;

op U slegs wag ek, needrig en stil.

 

2. doen slegs U wil, Heer, U wil met my,

toets en deursoek my, al moet ek ly!

witter as sneeu, Heer, was my vandag;

laag aan U voete wil ek steeds wag.

 

3. doen slegs U wil, Heer, U wil met my,

moeg en verlate, o staan my by!

raak en genees my, Heiland en Heer;

U kan almagtig oor my regeer!

 

4. doen slegs U wil, Heer, U wil met my,

tot heel my lewe U is gewy.

maak van my hart, o Heiland, U troon,

tot elkeen Christus in my sien woon.

 

 

 



april 2012

Lees aan


Lees aan


Lees aan

ek is het op 22 desember …


ek is het op 22 desember begin skryf aan my nuwe boek . as jy dalk onthou stories het van jou kleurling aia , stuur dit asseblief vir my – ek sal jou stories en haar resepte graag wil verwoord in die nuwe boek – groete


resensie van ‘n skrywer


liewe leser

soms word ‘n mens stil. stil wanneer iemand jou siel en jou hart raaksien en die lewe sien deur jou oë. dit is raar en gebeur min, omdat ons so besig is en so min tyd het om werklik te luister. die digter betsie van niekerk, het die volgende geskryf oor die boek sout+peper.

In sy boek “In search of lost time” beskryf Marcel Proust hoe hy na ‘n lang afwesigheid terugkeer na sy tuisdorp en sy ma vir hom op hierdie triesterige wintersdag ‘n koppie tee aanbied, asook ‘n “petit madeleine”. Wanneer hy die eerste mondjievol tee drink en die krummels van die soetigheidjie proe, sê hy “An exquisite pleasure had invaded my senses …” Hy kom tot die gevolgtrekking: “When from a long-distant past nothing subsists, after the people are dead, after the things are broken and scattered, taste en smell alone, more fragile but more enduring, more immaterial, more persistent, more faithful, remain poised a long time, like souls, remembering, waiting, hoping, amid the ruins of all the rest; and bear … in the tiny … drop of their essence, the vast structure of recollection.” Met die hap van ‘n petit madeleine-koekie is dit of die ou huis wat hy geken het, as’t ware uit sy fondamente opstaan, dan die dorpie self, die klein dorpsplein, al die skakerings van onweer en sonlig – soos wanneer klein opgevoude Japannese papiertjies in water geweek word en hulle dan ewe skielik wonderbaarlike vorms aanneem – blomme, huise, mense… Met ‘n klein happie en slukkie, roep die geure ‘n hele lewe op.
In Niel Stemmet se boek Sout en Peper gebeur hierdie kleine wonders bladsy vir bladsy. ‘n “anijsteekoekie en rooibos-en-kondensmelktee” laat hom skryf: “my ouma miemie het op koringberg in ‘n eenvoudige huisie met ‘n longdrop agter in die jaart gebly. Ek onthou ‘n skoon werf en ‘n bobbejaan wat aan ‘n ketting was. Ons bulletjies was doodbang vir die bobbejaan. Ek onthou ook ouma se tee. Dit het heeldag op die stoof staan en stoom. Regte ou rooibosteeblare saam met plaaswater gekook en bedien met kondensmelk in outydse koppies van porselein. Ons kinders was versot daarop en kon nie genoeg daarvan drink nie.”
Dit is asof moeders en oumas en tantes hulle spierwit voorskote ombind en vooroor gebuig by ‘n witgeskropte houttafel staan en kos maak. Dit is asof deure oopgemaak word na ou vertrekke waarin die geure van anys en kaneel hang; die leser word saamgeneem op ‘n kosbare reis van sintuie en herinneringe. Met sy erfeniskos en fyn genuanseerde beskrywings van mense, huis en omgewing, roep die skrywer op nostalgiese manier ‘n vervloë tyd op – ‘n tyd ingeprent in die psige van die meeste van die lesers. Sy egte omgaan met woorde sluit nou aan by die egtheid wat ook in die resepte uitgebeeld word. Dit is veral die egte omgaan met eenvoudige bestanddele wat tref; die respek wat daar is vir die enkel bestanddeel; die tyd wat spandeer word om hierdie bestanddeel met toewyding en deernis tot sy reg te laat kom.
Sout en Peper is ‘n kosbare toevoeging tot wat nou reeds beskou kan word as die genre van kookkuns in Suid-Afrika. Maar hierdie boek wil meer wees as die opskryf van resepte en geheime – dit is ‘n uitnodiging tot ‘n reis – die skrywer stap met ooglopende verwondering en respek op die spore van die Suid-Afrikaanse kook-geskiedenis. Maar dit is asof hy ons wil terugbring tot die egte eenvoud van kos: ons moet tyd maak vir tantes en oumas; vriendinne en kook-meesters tegelyk. Die name van vroue wat so kwistig gebruik word, klink in sigself na ‘n ode aan geslagte vroue wat die dieper geheime van “slow cooking” lank reeds gesnap het: yvonne, wilna, pikkie, elsabe, beax, steffie, marietjie …
Met sy verwysing na Heimwee van JRL van Bruggen wil die skrywer as’t ware die leser inlok in die weelde van hierdie nostalgiese reis. Maar dan raak dit baie meer as ‘n blote weergawe van ander se resepte – die skrywer self se intense belewenis van kleur en geur , sy kleinseuntjie-bewondering vir kos en kleur, word die eintlike juweel van hierdie boek. Die leser kan bloot nie anders nie as om saam met hom te loop nie; saam met hom opgewonde te raak oor juffrou duckitt se dansaande, sy ma se hemelse soetpatats, somergeelperskes, ‘n huilmooi dag in de kelders, sondagmiddagstiltes…
Die foto’s is in die boek eggo die inhoud – eenvoud en egtheid, die lieflikheid van die enkel item, die eenvoud van ‘n bietjie blomme in ‘n potjie gedruk … want kos staan nooit alleen nie. Kos is die resep van lewe; dis geskiedenis, dis huil en lag, dis menswees in sy volheid – als in een. Niel Stemmet slaag daarin om aan die leser ‘n unieke en heerlike reis te bied; kuiers by familie en vriende, ‘n ete saam met ‘n vriend in die Kalahari; hy laat die leser weer verwonderd kind wees; hy leer ons weer proe aan ‘n kollektiewe kos-verlede vernuftig gekonstrueer deur sy raak beskrywings en passievolle woordgebruik – en op die koop toe kry die leser heerlike resepte en waardevolle wenke van hulle wat weet …
Betsie van Niekerk, Upington


soutenpeper die boek


beste leser

die boek soutenpeper is amper klaar, vandag sit ons hier om die groot eetkamertafel, pot sop op die stoof, bruinbrood in die oond, terwyl die reent buite teen die ruite klop

en ons is besig om die bladsye van die boek op te stel, proeflees is klaar gedoen, carmen niehaus het reeds die resepte versien, al die kiekies is klaar, nou plak ons die boek op ‘n groot apple skerm

my hart is stil – ‘n eie boek – en hy is amper klaar

daar is geweldig baie media belangstelling – ek hou julle op hoogte en julle sal baie lees in november

lievde en groete

neil

 

n.s. die volgende boek is reeds in proses

 

 

 

 

 

 


smullekker kalahari lamsblad


kyk as jy nie kalahari skaapvleis ken nie , dan kry ek jou jammer, want dan het jy nog nie skaapvleis geeet nie. ‘n kortkop agter is calvinia se hantam karoovleis en dan wil ek in dieselde asem praat van phillipolis se skaapvleis .

hier in die kaap koop ek gereeld vleis van die overberg by ‘n wonderlike slagter, maar die vleis is so maer en ons wat die kalahari in ons bloed het , se tong wil die bros uitgebakte vet proe as ons lam vuur of oond toe vat.

as kind het ons grootgeword op skaapvleis – die is steeds my nommer een keuse, maar ‘n skaap is deesdae so skaars soos die reent hier in die hoogsomer van die kaap.

ek maak lamblad as volg

vra jou slagter vir die vetste lamsblad – koop maar altwee – een gaan te min wees. hy moet lekker gehang het en mag nie uit ‘n supermark of ‘n vrieskas uitkom nie. veeg die lam droog en dan vrywe jy hom goed met genoeg gemaalde witpeper, ‘n duim fyn gekapte naeltjies, sommer baie koljandersaad wat jy in jou vysel fynkap en lekker seesout.

pak die vleis dan op jou rakkie, gooi ‘n half koppie water onder in die bak  en bak hom in die oond vir so 3 ure op 140C .

nooi mense vir ete of maak soos my slagter : hy eet die hele blad so op sy eie op – jy eet die met plaasbrood en botter en as jy soetlus het snipper perskekonfyt.


heerlike, sagte varkmagie met n bros tammeletjie vel


 

‘n ou laai van my is om vleis droog te bak op 140C. kan nie onthou wie my die geleer het nie, al wat ek weet is – dit werk – met droogbak bedoel ek, dat jy jou vleis op ‘n rakkie bak dws hy bak nie in sy eie vet nie – meer gesond en meer bros lekkergoed om te kou

vir een of ander rede was varkvleis altyd skaars toe ons kinders was, soms was daar varkboud en meerkere heerlike krummelvarktjops. vark is ook in wors en frikadelle gebruik, maar eers later van jare het vark begin gewild raak. vandag is dit amper stapelvleis , omdat dit billik is en jy ten minste verseker is jy eet ordentlike vleis. ek koop altyd myne by joostenberg annerkant stellenbosch.

varkmagie – sy ingels is pork belly – so maak mens

vir twee kilo vleis nodig jy omtrent 3 teelepels fynsout, vars witmaalpeper en soveel vinkelsaad soos jy kan invryf – dit is al – jy kan as jy grend voel ook dun gerasperde suurlemoenskil en droe salie bysit

sny die vetjie oorkruis so diep en veelkere soos jy kan, maak die vleis dan goed droog en dan vryf jy hom met die fynsout , veral tussen die kepe. laat staan die vleis vir ‘n halfuur. veeg al die water af  [ die sout trek vog uit die vel ]  van die vleis dws jy maak hom weer droog

vryf nou growwe seesout, wit maalpeper en vinkel in die vleis in – gooi ‘n koppie vars water onder in jou roosterbak , sit die vleis op die draadrakkie en vat hom oond toe – bak hom vir te minste 3 ure op 140C

ek bedien die vleis saam met heerlike fynaartappel en komkommer- en asynslaai

jy kan ‘n sousie maak van die pansappe, maar ek verkies die vleis soos hy is – sag, bros en heerlik

die is werklik besonders lekker – gou-gou sal al wat vriend is weer by jou aan’t huise kom vroetel-vra : wanneer bak jy dan weer ‘n ou varkmagie man

 

 

 


n bottel somer geelperskes


nou as jy van die vrugtejuwele praat – die tipe wat jy kan inle , dan praat jy sekerlik van ingelegte geelperskes, maar vir my klink dit te veel soos blik, daarom roep ek hom bottelperskes .

ek dink die inle woord kom van [ can fruit ] kenfruit – kyk as jy die in outyd op sondaemiddae  perskes vir poeding bedien het, met plaasroom of carnation se ‘ ideal milk” , was jy omtrent grend – onthou jy die koo blikke met die suikerstroop – die vrugte van pere, perskes, druiwe, pynappel en die suinige kersies wat jy heel laaste op jou tong gesit het – te bang om te kou – het die soet rooi op jou tong gesmelt

oral waar jy in die boland ry staat die venters en verkoop perskes.

my vriendin bokkie se dogter nicol wat in engeland bly , bel altyd hier in desember en se : ag mamma ek sou wat wou gee om net nou ‘n geelperske se reuk te asem en sy soet op my tong te proe

in die kaap roep die kaapse mense hom pe[r]-skis: en vra hulle vir die smouse : hei djy wa vikoep djy die pe-skis voer ? nei man is djy dan mal – issie hjirre se pe-skis, wat jy soe gaat staat en dier maak, kom-aan gie da ‘n bieter prys – en dan as die prys geskik is dan begin die groot inle van die perskeboom-se-geskenke

juffrou duckitt skryf hoe die kaapse kleurlingvroue met die ballasmandjies na jou agterdeur kom loop het, die perskes was uit die kolonies van transvaal en die noord se kaap. die prys was 1 sjieling en 6 pennies vir ‘n mandjie . die kleurvolle gesig van die meire en die onderhandeling oor die agterdeur moes ‘n mooie gesig wees

nou hoe maak jy suikerstroop-perskes

2.5 vars water

300 g suiker

20 mooi geelperskes

gooi die water en die suiker in ‘n groot kastrol, laat kook tot die suiker opgelos is . plaas nou die perskes in die stroop en kook vir 10 minute. haal uit die stroop. trek die skilletjies af . pak die perskes mooi dig ‘n jou gesteriliseerde bottels. gooi die warm stroop oor – dit moet die perskes bedek. vat nou ‘n lang sosatiestokkie en draai die perskes sodat al die lugblasies ontsnap. draai die deksels op – en bere vir winterpoeding of vir wanneer jy oorsese gaste kry

hildagonda duckitt se resep is anders

soek die mooi vrugte uit. skil dun af met ‘n messie, sny deur en haal die pit uit. week die vrugte in ‘n groot kom water waarin jy 2 lepels kalk of sout opgelos het. spoel die vrugte af onder skoon water. weeg die vrugte en vir elke 12 pond vrugte gebruik jy 10 pond suiker [ jy kan ligte geelsuiker gebruik as jy 'n mooi kleur wil he ] olie [ olyf]  of botter jou kastol liggies . plaas nou ‘n laag vrugte onder in die kastrol , dan ‘n laag suiker en so gaan jy aan – gooi bo-oor ‘n koppie water of 2 . sit die deksel op en kook tot die vrugte se stroop mooi dik en deurskynend is. skep die perskeskuim af soos jy die perskes kook – skud die kastrol om te keer dat die perskes brand – le in in jou skoonste bottels.

renate vertel hoe hulle perskes uit die boord gepluk het by haar ma se huis in potchefstroom. die is dan ingele of haar ma het droe perskes gemaak wat op die sifdraadstellasies uitgepak is. elke middag hier teen vyfuur het dit kom reent en dan het die hele gesin gehardloop om die perskes vinnig die ronddawel in te dra.

die dae van somer , son en geelperkes

anton goosen sing :

as die geelperskereën veertien dae in die boorde val
en dit reën bietjie bietjie, en dit reën bietjie bietjie
en dit reën in die wes transvaal
as die geelperskereën veertien dae in die boorde val
dan hoor jy hoe die railway perskes in die ketel val

o die vaalhaarnooi, die rietdakhuis, die perskebrandewyn
dis vaalblaar in die ketel by hartebeesfontein
die oompie kerf die pitte en hy sit die helm op
hy smeer hom toe en stook hom en hou die voorloop dop  ….


Follow

Get every new post delivered to your Inbox.

Join 551 other followers