Maandelikse Argiewe: Oktober 2010

sousboontjies


hoekom is sousboontjies so lekker : omdat dit jou laat lank terug verlang, omdat dit die perfekte toekos [ bykos] is by braaivleis of omdat dit die perfekte soet-suur balans het. of is dit al drie , in my geval al drie .

ek vrek vir sousboontjies

neem 2 koppies droe sousbone, was hulle goed af, verwyder enige ongure bone, laat le hulle dan oornag in water. die volgende dag spoel jy hulle weer ordentlik  af. gooi hulle dan in ‘n kastrol en vul met koue water. laat hulle nou stadig prut tot die bone halfpad sag is  [sowat 1 uur ] – wees geduldig die bone vat hulle tyd

gooi die water dan af en spoel deeglik. sit terug in die kastrol saam met kookwater en bring tot kookpunt, draai die stoof af en prut tot neffens van sag.  meng dan die volgende saam en roer in die bone : 3 e witdruifasyn, 3 e witsuiker,  2 e meelblom, 1  t sout , 1/2 t mosterdpoeier en 1/2 t witpeper.  prut tot die sous verdik het.  roer hom weg van die bodem met ‘n houtlepel.

jy kan die warm of koud eet en die oorskiet in die yskas bere


meraai-se-hoen[d]er-pastei


as kind het ons gepraat van hoeners, nie hoenders met ‘n -d nie. wie meraai was kan ek nie onthou nie , maar al die hoenderpasteie wat ek voorgesit het is altyd se meraai-se-pie genoem.

daar was ‘n tyd dat engelse woorde afrikaanse woorde oorgevat het  soos byvoorbeeld pies [ pasteitjies ], pikkie het altyd gepraat van lawn, ons het gepraat van milkshakes, floats, chips, pop corn, movies, drive-in en honderde ander woorde wat soos afrikaans eie in ons mond kom le het. vandag is dit anders, ons stof ons ou afrikaanse woorde af en laat die klanke met vreugde uit ons mond rol. afrikaans in praattaal, sonder snobistiese hogere woorde, word met liefde en nostalgie gepraat en stories word vertel aan kindgoed wat oopmond by jou voete sit en luister.

om terug te kom by die hoenderpastei

soek ‘n hoender uit wat die vreugde van son op hom gevoel het, wat heerlik buite kon rondhardloop en kiep-kiep sy bekkigheid kon uithaal op grond en plaaslekkernye.

maak hom ordentlik skoon en verwyder alle veertjies en sit hom dan in ‘n mooi ysterpot. ek het al my ysterpotte weer uitgehaal en opgevryf – leipoldt het ‘n broertjie dood gehad aan aliminiumpotte , dus as ons reg wil erfenis-styl-kook moet ons in die ou ysterpotte kook.

jou hoender is nou in die pot, voeg by 1 koppie warm water, 6 heel wonderpeperkorrels, 12 heel peperkorrels [ wit as jy kan kry ], 3 naeltjies,  1 lourierblaar, ‘n raspertjie vars neutmuskaat, soutenpeper en ‘n stuk suurlemoenskil. kook die hoender saggies en met respek tot hy gaar is . haal dan al die bene uit, sny die velletjies in repe en sit terug in die pot.  laat die twee eetlepels sago in water staan tot sag, roer by die ontbeende hoender en prut saggies. so gou as die sago deurskynend is,voeg jy ‘n glas witwyn by en twee geklopte eiergele asook die sap van een groot plaassuurlemoen.  roer tot die fynhoender dik en romerig is.

rol jou skilferkors uit , voer jou oondbak uit met skilferkors, skep hoender-se-kind binne in die skilferskors, maak toe bo-oor. garneer met gesnyde hardgekookte eier, vee die deeg met melk en eiergeel, druk hier en daar ‘n gaatjie, vir die stoom om te ontsnap en bak vir 15 min teen 200 C tot goudbruin .

vincent van gogh skryf in ‘n brief aan sy broer theo as volg : ‘n diep verlange

soos alle ander mense voel ek die behoefte aan familie en vriendskap, die behoefte aan toegeneentheid en gesellige verkeer. ek is nie van ‘n klip gemaak nie, daarom kan ek nie hierdie dinge ontbeer sonder om soos enige ander intelligente mens, ‘n leegheid en ‘n diep verlange te ervaar nie. ek se dit vir jou om jou te laat weet hoe goed dit vir my was, dat jy my, besoek het.

bogenoemde skryf ek . omdat jy nie meraai se hoenerpastei kan eet sonder om jou familie oor te nooi nie, sorg dat dit sondagmiddag is, dek die tafel met jou ouma se silwer en linne, sit die pastei voor met witrys, ertjies en tamatie-en uieslaai.

seen mekaar voor julle saam aan tafel sit – en as julle groet, groet met die wete dat julle mekaar spoedig weer moet sien , omdat julle dieselde bloed het, en omdat julle om jou tafel van eenvoudige erfeniskos mekaar weer kon vind en leer liefhe.


de kelders se daaglikse brood


by ons gastehuis, in de kelders,  is dawid die bakker, ek kook nie in gramme en milliliters nie, ek maak alleenlik gooi-by-kos . so het ek myself geleer en as ek my hand aan bak waag is dit gewoonlik nie ‘n suksesvolle bakdag nie. hier is twee broodresepte wat vir die gaste voorgesit word wat hier aant huise bly.

ons bedien die daaglikse brood met brekvis saam met tuisgekookte konfyte en kleinrivier se heerlik kase en saans saam met soep.

die brode hou lekker vars. dawid se geheim is ‘n bak met water onder in die oond, en dat hy sy brode laat uitrys voor hy hulle bak

 

witbrood

2 k witbroodmeel

2 k koekmeel

1 pakkie 10g gis

4 e suiker

4 e sonneblomolie

1 t sout

2 k warm water

meng alles saam, dawid lig dit in die lug met houtlepels, om die deeg meer elasties te kry . jy knie nie deeg nie, jy werk hom net met die houtlepels . maak toe met plastieksak. laat rys tot dubbel die grote , in ‘n warm plek sonder trekke.  as deeg dubbel gerys is dan maak jy hom plat met houtlepel. sit die deeg in ‘n broodpan wat jy vooraf geolie het en met bakpapier uitgevoer het. maak toe met ‘n doek en laat weer uitrys. bak 220 C vir 10 min, verlaag oond na 180 C en bak tot brood mooi gaar en hol klink. haal uit oond en uit sy broodpan en sit op ‘n draadrakkie terug in die oond vir so 10 minute – die rede is dan maak jy ‘n lekker kors rondom die hele brood se lyf.

smeer botter oor die brood se lyfie  as jy hom uit die oond haal

sonneblom se-brood

4 k koekmeel

4 k volkoringmeel

2 k semels

200 g sonneblomsaad

2 x 10 g gis

125 ml sonneblomolie

125 ml bruinsuiker

1 liter warm water

knippie sout , witpeper en geraspede neut

verhit jou oond 180C  – meng al die bestandele en deel op in gesmeerde broodpanne wat jy eers botter en dan met waspapier uitvoer. laat die brood uitrys , sprinkel ekstra sade bo-oor en bak in die middel van die oond vir  50 minute. toets vir gaarheid, keer uit op ‘n draadrak en eet saam met plaasbotter, lekker sterk cheddar, gesnyde plaastamaties, vars uie wat jy in ringe sny, sout en witpeper.

heerlike ete as jy dit vir aandete wil maak sit lekker plaaseiers wat jy in botter bak bo- op.

klein miena het op dassieshoek , die eiers in ‘n baie warm pan gebak en dan met ‘n eetlepel botter oor die eiers geskep tot die wit mooi gaar was. dan skep sy dit in ‘n skottel en dra dit tafel toe waar ons die heerlike plaaskos verober saam met boeretroos , ouma se konfyte en boerewors.


gebotterde wortels en raap


as kind het ons gereeld die soetraap- en wortels geeet. ons was mal daaroor en het gereeld vir eva gevra wanneer dit raap-se-tyd is , dat sy die vir ons kan maak. dan sit om omtrent smulbek en eet agter die soet en die vrank van die groente aan

ek maak die resep ook uit my kinderkop se gedagtes uit, nerens kry ek die opgeteken nie. daar is wel ‘n maleise bredie waarvoor hulle beide wortels en raap as groente gebruik het. ek wag net vir ‘n koue front dan kook ek hom en ook  ‘n blomkoolbredie.

1/2 te raap

1/2 te wortels

skil die groente, sny in skywe en gooi in water. droog af. gooi in pot saam met botter, witsuiker, sout, witpeper, ‘n knyppie neut, tjilliepoeier en kaneel, laat dit stadig kook tot die groente sag is en jy ‘n heerlike bottersous het

nota oppas om nie te veel te roer nie, sny jou skywe groente so 5mm dik

die is allerheerlik saam met skaaptjops  en koolfrikkadele, en jy moet rys kook vir die bottersous se doop.


somer koeldranke


kyk as jy gewoont is aan upington se hitte waar die son soms stilstaan en selfs ‘n kameeldoringboom geen wegkruipkans gee vir die arms van die hitte nie, dan ken jy ook van erfeniskoeldranke wat deur generasies van oor tot oor vertel is.

in die hitte trek jy die hortjies net na 0800 in die oggend reeds toe. die huis kry ‘n vredige stilte met stof wat glyplank speel in die strale wat blyplek soek op die vloer. as jy haas van buite die huis inval, jou kop en lyf sopnat gesweet sit jy aan by die kombuistafel en vra : ma is daar nie iets koel om te drink nie.  jou ma stap na die koelkas en skink vir jou ‘n somerlafenis.

ek deel ‘n paar resepte wat menigte gaskoeldrank se gat sal skop.

gemmerbier

15 bottels kookwater

1 koppie geskilde vars gemmer gekap en gekneus

1 koppie pitlose rosyne gekneus

5 tuin suurlemoene fyngesny met skil en al – haal die pitte uit

1 pakkie kremetart

1 pakkie kitsuurdeeg

12 k  bruinsuiker

gooi die kookwater op die gemmer, suurlemoene, kremetart, sitroensuur, rosyne en bruinsuiker. roer suurdeeg in na alles goed deurgeroer is en die water bietjie afgekoel het. maak toe en laat staan vir 24 uur , syg deur ‘n moesliendoek en bottel. sit kurkproppe op . bere op ‘n koelplek, verkieslik die yskas – bedien yskoud op warm dae.

suurlemoenkoeldrank

12 tuin suurlemoene met skil en al gerasper

2.5 kg suiker

11 k kookwater

kook die bestandele vir 5 minute saam. laat staan dan vir 24 uur. roer 1 koevertjie wynsteensuur in en laat staan weer vir 24 uur. syg deur. bottel en plaas in die yskas. onthou jou bottels moet voorraf eers goed gesteriliseer word deur hulle ordentlik te was en dan in kookwater te kook.

laatmiddag na 1800 word die hortjies oop gemaak – die voordeur en ook die agterdeur. dan begint daar ‘n luggie deur die huis te trek . dit is die beste tyd om dan onder die bome te gaan sit en die rivier te kyk , terwyl jy in jou eie stilligheid koue slukke gemmerbier neem.

daar is net een iets wat meer somer ruik as gemmerbier en soetwaatlemoen en dit is die eerste reentdruppels as hulle in die kalaharistof vasslaan. kyk en daardie simfonie van ‘n storm as hy donkerblou voor jou kom le en die blitse onverpoos die veld begin piets. dit is ‘n mooi wereld die , die kalahariwereld van my.


peter se varkvleis in melk gebak en neil-se-patats


jare terug het ons ‘n wonderlike konsert in upington aangebied : berlyn tot babsfontein met jannie du toit en die nimlike laurika rauch. dit was ‘n uithangaand en almal het grend opgetof. ek wou graag voortreflike kos voorsit en het die kosredakteur van sarie gebel , om die spyskaart se goedkeuring te kry. in die dae het peter veldsman geweldig baie bygedra tot die kosstorie van suid afrika en was hy vir my ook ‘n groot inspirasie

in sy boek : kos van die eeu het hy die resep vir varkvleis in melk gebak opgeneem en volgens hom is dit ongelooflik lekker en moet jy dit saam met gebakte patats voorsit.

nou om ‘n patat te bak is een van die maklikse goed in die wereld en ook een van die lekkerste. dit moet patat-se-tyd wees. soek middelslag patats uit van min of meer dieselde grote. was die patats silwerskoon, sny alle lelike plekkies uit. droog die patats af en vryf in met botter – rol die patats dan in ‘n mengsel van suiker, kaneel, witpeper, fyn gerasperde lemoenskil en sout. bak dit dan op ‘n bakplaat in die oond wat so op 140 C gestel is . eet hom warm, net so skoon of saam met plaasroom of koue botter.

patats laat my altyd aan daleen matthee dink. in haar bosboeke was daar altyd patats en as ek reg onthou noem sy dit ook wurgpatats, ek het al menigte kere ‘n patat afgesluk met warm melk of water as hy my keel gaan staan en verwure het . ek dink patats soek ‘n vleissous – daarom peter se idee

1.5 kg  varkdikrib, gerol en gebind

marinade

1/2 k groen olyfolie

3 t appelasyn

3 vars vet knoffelhuisies, geskil, gekneus en fyngedruk

1 vars roosmaryntakkie

om in te bak

1 l volroommelk

sout en witpeper

meng die marinadebestandele in ‘n oondskottel. plaas die vleis daarin, bedek en marineer  24 uur lank in die koelkas. draai 2 keer om.

verwyder die vleis en geur  met sout en peper. plaas terug in die marinade en voeg die melk by. moet nie die skottel bedek nie. bak vir 1 uur in voorverhitte oond wat op 180 C gestel is. draai die vleis dan en wan op ‘n ander sy. na 1 uur verhoog jy die oond na 200 C en bak verder vir nog 20-30 minute, onthou om die vleis te draai en gereeld met die pansappe te smeer. verwyder die tou, sny in skywe . giet die sous wat in die pan oorgebly het deur ‘n sif , verdik met meel en water indien nodig. gooi oor die vleis en sit voor met soetpatats of neil se patats.

ek sal die saam met knorhoek se cabernet franc geniet – ‘n voortreflike wyn by ‘n heerlike gereg


kaas- en wynparty


hier is die sestigs was die volk aan’t party en die gier was ‘n kaas- en wynparty. van die happieskos sien ons vandag nog, en as dit aangebied word is ek voor in die ry. onthou jy groen, rooi en wit suuruitjies met cheddar, pruimedante gestop met dadels en toegedraai in spek en die warm knoffel-franse-brode.

die gewildste wyn by so ‘n party was rose met sy rooswangblos en is aanbeveel by alle kase behalwe die met ‘n sterk geur. kaapse rooiwyn met hul vrank smaak is saam met meer pikante kase aangebied , daar is witwyn ook bedien [ gewoonlik met aankoms ]  en saam  met die loopdrankie van port bloukaas en groenvye. dit was die tyd voor die spietskops onder in die straat gewag het om die alkohol in die bloed te toets. die land het geparty op groot skaal en kaas en wyn was die koning en koningin van die bal.

in die sestigs was daar reeds omtrent twintig kase beskikbaar en die is op die kaastafels uitgepak omring deur krulblaarpietersielie, peuselstokkies en gekleurde vlaggies wat die name van al die kase roep. saam met die kase is grootborde [ platters ] met klein tamaties, selderystokkies, radyse, waterkers, suuruitjies en broodborde met gesnyde brode bedien. die brode het gewissel van gesnyde wit- en bruinbrood tot lang franse brode [ wat jy met die hand gebreek het ] en heerlike tuisgebakte volkoringbrode. hier en daar was bakkies beskuitjies geplaas en die lig was kerslig om ‘n romantiese atmosfeer te skep. op die tafel was kleinbordjies, botter en bottermesse en ‘n kaleidoskoop van papierservette wat vrolik in waaiervorms gevou is .

franse partybrood

1 flessie sagte verwerkte kaas

1/2 koppie sagte botter

1/4 koppie medium cream sjerrie

2 e fyngekapte pietersielie

gekapte vars knoffel na smaak

meng alles saam. sny ‘n franse brood skuinsoor in snye. smeer met die vulsel. draai toe in foeilie en bak tot deurwarm teen 180 C. die brode is vuurwarm uitgedra in hul foeliekombersies. met die oopmaak daarvan het die geur van knoffel en kaas die sitkamer gevul.

venesiaanse eiers

12 eiers

1/2 k botter

4 koppies deurgesygte vars tamatiesap

4 koppies gerasperde sterk cheddar

sout en maalpeper

smelt die botter, gooi die kaas in en roer tot die kaas gesmelt is. voeg die tamatiessap by en wanneer  die sous begin verdik, gooi jy die liggies geklitste eiers by. roer deur tot romerig en bedien op warm kraakbeskuitjies of geroosterde witbrood halwes waarvan die korsies afgesny is.

kaasbeskuitjies

3 onse meelblom – drie keer gesif

3 onse sterk cheddar

3 onse botter

sout, mosterdpoeier en rooipeper

vryf die botter in die meel. voeg die kaas by. meng goed , indien nodig bind met eiergele. rol deeg mooi plat , druk uit met koekiedrukker. bak op die middelste rak van jou oond teen 170 C. jy kan die deeg ook rol om kaasstingels te vorm en op die selde manier bak.

dikmelk kaasdeeg vir soutterte en worsrolletjies

4 onse dikmelkkaas

4 onse koue botter – gerasper

4 onse gesifte meelblom

sout en rooipeper

meng al die bestandele  en hanteer so min moontlik. rol drie keer uit so asof jy skilferkorsdeeg maak met ‘n ruspose tussen elke uitrolslag. maak worsrolletjies of gebruik vir soutterte.

groen- en wit doopsous

1 houer dikmelkkaas

gerasperde cheddar, sout en witpeper

3 gekapte langsteeluitjie – lowwe en al

1 e aangemaakte peperwortel

meng alles saam tot dit glad is , rangskik beskuitjies rondom en bedien. dieselde kan met avokadopeer gedoen word, los net die kaas uit en voeg ‘n bietjie vars suurlemoensap by.

hou ‘n slag ‘n kaas- en wynparty  – almal sal dit so geniet. dit is ‘n maklike en ‘n heerlike manier om te onthaal. in die laat sestigs is msg na suid – afrika gebring en die sal jy nie op die blog kry nie – dus strek die soutenpeper resepte tot 1969, die jaar wat ek skool toe is met kort geskeerde hare, twee krone een reg voor en een agter in my nek, bakbene en ‘n groot opgewondenheid vir wat die lewe my sou vertel.


viskoekies


ons het graag viskoekies as kinders geeet saam met heerlike fynaartappel en mentertjies. eva het die vir ons gebak en as ons middag van die skool gekom het, het die visreuk in die hoeke van die kombuis weggekruip.

as mens te lank vleis eet en die geilgeit kom sit hier om jouse kiewe is daar min goed so lekker soos die nederige viskoekie

kap ‘n ui mooi fyn en braai in botter tot sag en deurskynend. meng die ui met die rou gemaalde vis, fyn witbroodkrummels, bietjie gerasperde neut, fyn gekapte pietersielie, vars suurlemoensap, sout en witpeper en geklopte eier.

vorm plat koekies met jou hande en braai goudbruin in ‘n mengsel van botter en sonneblomolie.

druk vars suurlemoensap uit oor die koekies, laat le hulle neffens die fynaartappel. skep ‘n paar lepels ertjies aan die bo-kant van die bord en sit aan vir ‘n eenvoudige fees


anysbeskuit


met die dat ons nou van koffie praat sal anysbeskuit seker die logiese opvolg wees op die koffiestorie. nou die aand het ek lig geroosterde anysbeskuitstukke saam met hoenderlewerpatee by die restaurant hemelhuijs, te 71 waterkantstraat, kaapstad geeet – dit was ‘n hemelse kombinasie

jacques het die anysbeskuitresep by sy ouma gekry.

aartappelsuurdeeg

maak die die vorige aand aan deur as volg te werk te gaan. gooi 2 t suiker en 2 t sout en 1 klein aartappel wat jy fyn rasper in ‘n middelslag konfytvles wat jy half vul met louwarm water, draai die deksel lig op en maak toe in ‘n handdoek

die volgende more haal jy die  1/2 te van die aartappel uit die vles.  voeg dan by die aartappelwater 2 e suiker , 1 e sout en een klein aartappel. maak die vles tot bo toe vol met lou water.

kook 250g botter, 2 koppies suiker en 3 koppies melk saam en roer tot die suiker gesmelt is, laat dit afkoel

gooi die aartappelwater deur ‘n sif by 2.5 kg meelblom en 1 e anys. voeg die bottermengsel by en meng tot jy ‘n lekker deeg het. knie baie goed. laat uitrys, knie dan af en maak bolletjies wat jy in gesmeerde broodpanne sit. laat rys tot die panne vol is en bak teen 180 C vir sowat een uur.

laat afkoel, sny in beskuite en droog uit in jouse louoond of eet ‘n paar van die stukke met plaasbotter en doop dit alwetend diep in jouse soet koffie .

 


koffie-se-storie


koffie, moerkoffie, boeretroos – onthou jy die soorte : koffiehuis, van riebeeck en trekkerkoffie wat uit ‘n mengsel van sigorei en koffie bestaan het

ek onthou die koffieketel neffens die aga stoof met die tabak of flenniesakkie wat hang aan ‘n draadsirkel met ‘n draadhandvatsel. binne in die sakkie het ouma groot vol lepels gemaalde koffie gegooi. die kombuis het altyd na moerkoffie en anysbeskuit geruik.

die naweek praat ons om die tafel en ek vertel van die melkkoffie resep wat ek raakgeloop het. vertel renata coetzee dat hulle in die ou tyd gereeld koffie afgekook het om ‘n koffie ekstrak te maak. wanner die koffielus jou dan pak  en daar nie moerkoffie in die kan was nie, het jy die ektrak onder in jou koppie gegooi en dan vol gemaak met kookmelk.

wys jou nou net .

ek het die resep ook raakgelees in mej duckitt se boek waarin sy vertel dat hulle die koffie- ekstrak saam geneem het wanneer hulle gaan kuier het in stellenbosch se wereld. met elke uitspan is daar vinnig vuur gemaak en dan is die warm melk oor die koffie-ekstrak gegooi, sonder om vars koffie te maak wat tydrowend was.

dit is vir my baie interessant want die eeu van vinnig-kos-maak het dus al in 1900 begin. daar was seker baie ander sulke stories wat mens sal raakloop met die skrywe van die boek.

my ma vertel dat haar pa – oupa manie elke more die koffiepitte gerooster het terwyl hy nader-steeds-nader gesing het. oupa manie  het die pitte in ‘n groot ysterkastrol gegooi en  vir ongeveer 20 minute gerooster op die houtstoof, net voor oupa die geroosterde koffiepitte van die stoof getrek het , het hy suiker en ‘n bietjie sout saam met die pitte in die pot gegooi.  die koffiepitte is dan in die koffie-hand-meultjie gemaal en dan na die koffiekan toe waar oupa dan koffie gemaak het vir die hele gesin van ouma miemie met hulle sewe kinners; vier broers : klein manie, theunis, willie en kobus en drie dogters : christel [ pikkie ] , marie en elise.

oupa manie het daarna voor die stoof gaan sit, een been oor die ander en die koffie in sy piering gegooi, na sy mond gelig met die punte van sy vingers, saggies geblaas en bietjie-beitjie gesluk

die koffie is dan vir elk kamer toe gedra met ouma miemie se mosbeskuit en was bekint as smorenskoffie.

oupa manie het 1 eetlepel koffie vir elke koppie vars stroomwater gebruik.  jou water moet net begin  kook , dan haal jy dit dadelik van die stoof en gooi oor die gemaalde koffie. jy moet die koffie dan dadelik skink of die ou mense het die tuit van die koffiekan toegemaak, die dat die geur in die koffie bly le het.

ouma nellie, aan my pa se kant, het die koffie in ‘n koffiefles [ flask ] geskink, die dat oupa koot dan heeldag met sy koffie by hom gery het.

koffie is met plaasroom bedien en soms geskink met 1/2 kookmelk en 1/2 koffie en na ete is koffie gewoontlik swart bedien in die voorhuis saam met suiker en kleinkoekies

die ander depressie koffie waarvan ek weet is mieliekoffie en witgatwortelkoffie. kyk die witgatwortelboom is een van die mooiste bome wat daar op aarde is, as jy voor hom staan is jy altyd stil, want daar is soveel jare in elkeen se stamme opgesluit. die mooie witstam en die windverwaaide stywe kroon met die rigting van die wind in hom gewaai

ewenwel ou doktor eksteen van upington vertel  dat die ou mense is die swaar tye die wortels  gegrawe het. daar is dan eers aan die wortel geproe om te sien of hy bruikbaar was. ek neem aan die wortel is gerooster en gemaal en dan soos met moerkoffie getrek.


Follow

Get every new post delivered to your Inbox.

Join 672 other followers