hier is die sestigs was die volk aan’t party en die gier was ‘n kaas- en wynparty. van die happieskos sien ons vandag nog, en as dit aangebied word is ek voor in die ry. onthou jy groen, rooi en wit suuruitjies met cheddar, pruimedante gestop met dadels en toegedraai in spek en die warm knoffel-franse-brode.
die gewildste wyn by so ‘n party was rose met sy rooswangblos en is aanbeveel by alle kase behalwe die met ‘n sterk geur. kaapse rooiwyn met hul vrank smaak is saam met meer pikante kase aangebied , daar is witwyn ook bedien [ gewoonlik met aankoms ] en saam met die loopdrankie van port bloukaas en groenvye. dit was die tyd voor die spietskops onder in die straat gewag het om die alkohol in die bloed te toets. die land het geparty op groot skaal en kaas en wyn was die koning en koningin van die bal.
in die sestigs was daar reeds omtrent twintig kase beskikbaar en die is op die kaastafels uitgepak omring deur krulblaarpietersielie, peuselstokkies en gekleurde vlaggies wat die name van al die kase roep. saam met die kase is grootborde [ platters ] met klein tamaties, selderystokkies, radyse, waterkers, suuruitjies en broodborde met gesnyde brode bedien. die brode het gewissel van gesnyde wit- en bruinbrood tot lang franse brode [ wat jy met die hand gebreek het ] en heerlike tuisgebakte volkoringbrode. hier en daar was bakkies beskuitjies geplaas en die lig was kerslig om ‘n romantiese atmosfeer te skep. op die tafel was kleinbordjies, botter en bottermesse en ‘n kaleidoskoop van papierservette wat vrolik in waaiervorms gevou is .
franse partybrood
1 flessie sagte verwerkte kaas
1/2 koppie sagte botter
1/4 koppie medium cream sjerrie
2 e fyngekapte pietersielie
gekapte vars knoffel na smaak
meng alles saam. sny ‘n franse brood skuinsoor in snye. smeer met die vulsel. draai toe in foeilie en bak tot deurwarm teen 180 C. die brode is vuurwarm uitgedra in hul foeliekombersies. met die oopmaak daarvan het die geur van knoffel en kaas die sitkamer gevul.
venesiaanse eiers
12 eiers
1/2 k botter
4 koppies deurgesygte vars tamatiesap
4 koppies gerasperde sterk cheddar
sout en maalpeper
smelt die botter, gooi die kaas in en roer tot die kaas gesmelt is. voeg die tamatiessap by en wanneer die sous begin verdik, gooi jy die liggies geklitste eiers by. roer deur tot romerig en bedien op warm kraakbeskuitjies of geroosterde witbrood halwes waarvan die korsies afgesny is.
kaasbeskuitjies
3 onse meelblom – drie keer gesif
3 onse sterk cheddar
3 onse botter
sout, mosterdpoeier en rooipeper
vryf die botter in die meel. voeg die kaas by. meng goed , indien nodig bind met eiergele. rol deeg mooi plat , druk uit met koekiedrukker. bak op die middelste rak van jou oond teen 170 C. jy kan die deeg ook rol om kaasstingels te vorm en op die selde manier bak.
dikmelk kaasdeeg vir soutterte en worsrolletjies
4 onse dikmelkkaas
4 onse koue botter – gerasper
4 onse gesifte meelblom
sout en rooipeper
meng al die bestandele en hanteer so min moontlik. rol drie keer uit so asof jy skilferkorsdeeg maak met ‘n ruspose tussen elke uitrolslag. maak worsrolletjies of gebruik vir soutterte.
groen- en wit doopsous
1 houer dikmelkkaas
gerasperde cheddar, sout en witpeper
3 gekapte langsteeluitjie – lowwe en al
1 e aangemaakte peperwortel
meng alles saam tot dit glad is , rangskik beskuitjies rondom en bedien. dieselde kan met avokadopeer gedoen word, los net die kaas uit en voeg ‘n bietjie vars suurlemoensap by.
hou ‘n slag ‘n kaas- en wynparty – almal sal dit so geniet. dit is ‘n maklike en ‘n heerlike manier om te onthaal. in die laat sestigs is msg na suid – afrika gebring en die sal jy nie op die blog kry nie – dus strek die soutenpeper resepte tot 1969, die jaar wat ek skool toe is met kort geskeerde hare, twee krone een reg voor en een agter in my nek, bakbene en ‘n groot opgewondenheid vir wat die lewe my sou vertel.