nig elise skryf uit new zealand die storie van ‘n nuwe yskas
Neil, toe ouma moeder Miemie, op ‘n laat ouderdom met die ou oom Smit op Koringberg loop staan en trou het, het hulle in so ‘n eenvoudige huisie weg van die groter plaashuis gewoon – dié groter huis met sy lêktriek was toe beskore vir die jonger geslag. Nou ja, die eenvoudige huisie had sowaar ‘n beesmisvloer wat my eindeloos gefassineer het! Geen elektriese krag vir die abode nie en dus geen yskas.
Op ‘n dag kla ouma oor sy nie kan jellie maak nie. My pa, Albert, neem dit toe ter harte en spring aan die werk. Vandag, terugkykend, verstaan ek baie meer van hoe ‘n liefdestaak werk. Hy meet en saag die planke, koop die fyn sifdraad en begin ‘n klein houtkassie maak. Vierkantige rame met al die sye en die deurtjie as sifdraad insetsels.
So ‘n hout-yskassie moet dan onder die boom in die “koel luggie” gehang word. Nou of Koringberg se luggie ooit as “koel” beskryf kan word, is debatteerbaar.
Toe die yskassie klaar is, het ek die voorreg gehad om saam te gaan vir die aflewering.
Die rytyd Koringberg toe was nie eens twee ure nie maar sonder padkos vertrek ons nie. Frikkadelle, gekookte eiers en snye brood – en die koffiefles. Halfpad soontoe stop ons by daai sementtafeltjies en stoeltjies wat jy doerietyd nog by kon stop.
Nou ja, ouma Moeder se blydskap oor hierdie hout-yskassie was groot en my pa het hom summier daar in die boom gehang sodat sy kon jellie maak.
Ek wonder wat het van die yskassie geword?
elise, ek onthou hom en ander, die sif was bruin soos wat ons vandag nog in party van die ou huise as ‘n vlieedeur kry voor die agterdeur , die hout amper soos tamatieplank se kleur, met die tyd dat regte frigidaire yskaste uitgekom het, het die “yskassies” biltong-uithang-kassies geraak. g’n vlieg kon by dit kom nie , en daar het genoeg lug deur getrek vir die droogword.
my ma-hulle het ‘n frigidaire yskas gekoop in die sestigs, hy loop vandag nog in die huis in upington, hy het so ‘n klein vrieshokkie waarin jy ys of roomys kon sit, en onder ‘n klap waarin al wat ‘n ou koerant was, gaan bly het vir die ruite se was later met brandspiritus en water . hy klink soos ‘n grassnyer, en hoes en proes so deur die nag. snaaks dit is vir my ‘n besonderse klank , selde met ‘n diesel kragopwekker in die stilte van die nag , op ‘n plaas.
die mooiste klank is vir my wanneer dit krag-af-tyd op die plaas is , in die ou tyd was dit net na nege saans. dan le jy in jou bed en wag, die ligte flikker , flikker tot hul stadig doodgaan. jy had ‘n kers aan’t brand langs jou bed, vir die laaste lees, en dan die uitblaas van die kers. die salige reuk van die kers-se-pit-se-koud-raak-terwyl-die-rokie-opwaarts-drentel en die kyk van jou oe na die pit wat van rooi na oranje tot by geel gaan en dan wegraak in die donkerte .
die geluid van die horlosie in die gang, tik-tok, sy meganisme soos hy homself laat tik, sy begint om die kwartier se gong te gee, dit was soos ‘n nagwaker, die stilte om jou en die klok wat waghou oor die huis.
die reuk van jou lakens, wit linne gewas in boerseep en gestryk met ysterstrykysters . die gevoel van die klapperhaarmatras onder jou [ as kinders het al drie ons seuntjies in een katel geslaap op die plaas, en hoe jy ook al jou stuk vir jouself wou he, rol jy die heeltyd binnetoe, op die ouend het ons soos ‘n klomp katjies inmekaar geslaap in die hand van die bed.
die stilte van alles buite. die reuk van die nag, veral in die winter – klam akkerbome wat met hulle vingers krap op die sinkdak, die steun van die balke, hier en daar die naggeluide van die huis, ‘n hoes uit ‘n kamer, en dan jy, jy wat wegraak in ‘n diepe-kindwees-slaap.
Oktober 14th, 2010 at 9:14 vm
Dan net gou nog een: my ma het haar ma se mooi ou saaidbordjie gehad – staan nou oor die water by sus Elize – ek het dit met my eie oë weer gesien toe ek toevallig afkom op foto’s van haar huis wat sy wou verkoop. Dadelik die saaidboard herken en swaer Christo se skilderye.
Ewenwel ons antie Maatjie van Lambertsbaai kom kuier en die saaidboard inspireer haar om die storie met ons te deel. Die kuiergas vra die jonge dogter van die huis (wysende na die spesifieke meubelstuk): “Ag, speel vir ons klavier” Die dogter antwoord dis nie ‘n klavier nie, dis ‘n saaidboard, waarop die tannie nie links is nie: “Nou speel dan maar vir ons ‘n stukkie saaidboard.”
Is dit nou wanneer party van die familie te grend geraak het vir die res wat nie kon byhou nie?
Oktober 14th, 2010 at 8:57 nm
mooi storie marietjie
Oktober 14th, 2010 at 7:21 vm
Gewoonlik het hulle steenkool tussen 2 ogiesdraadwande gepak en dit dan nat gehou. Ek het groot geword met sulke instapkoelers met hulle koel “mure”. Later het ons paraffienyskaste en -vrieskaste gehad. Hulle het goed gewerk as hulle die slag gewerk het. Maar elke kort kort was daar iets fout met die pit van die lampie, dan rook die simple goed die hele dak pikswart. Om die pit reg te kry het jy ‘n klein tooltjie gehad waarmee jy die kon reguit afsny. Anders moes jy baie netjies met ‘n skêr of baie skerp mes sny. Die voordeel van daai ou ys/vrieskaste was dat hulle byna onvernietigbaar was en dekades lank gehou het. Nog later het die kouebankvrieskaste ingekom. Met hulle moes jy die kragopwekker laat loop het vir so 3 ure elke dag, dan hou hy die hele res van die dag. Wat ‘n ongelooflike lawaai!
Oktober 14th, 2010 at 8:22 vm
dankie leon – jy voeg waardevolle bydraes toe aan die blog – baie , baie dankie davoor
Oktober 14th, 2010 at 9:09 vm
My pa was ‘n lang man en een van die prentjies wat ons nog van hom het, is waar hy saans na werk met sy drankie in die hand by Ma in die kombuis staan terwyl sy kosmaak met sy elmboog gehaak oor die yskas. Frik het nou eendag, toe ons oor hom praat, gewonder of daar ‘n yskas vir hom is om sy arm op te leuen.
Tannie Hetta het een van daai goue, glas koepelgedoentes gehad wat oom Kerneels vir soveel jare diens gekry het. As ons daar slaap (gewoonlik ‘n paar gesinne saam) het ons kinders kermisbeddens in die sitkamer gehad en dan het ons daai klok al om die halfuur aangehoor. En hulle was reisigers (van die min families wat dit daardie tyd kon bekostig) – elke jaar een of ander toer onderneem. So die sitkamer was vol aandenkings van hierdie reise. Vir my as kind was dit die aansporing om eendag ook die plekke te kan gaan kyk. Met ‘n besigheid en kinders groot maak, het hierdie droom nou nie so uitgedraai soos vir jou nie, Neil.
En tog: as ek vandag plekke besoek, het ek geen begeerte om al die junk te koop as herinneringe nie. Eerder bruikbare geskenke vir die mense tuis. Loop een jaar in London en soek geskenkies en sowaar alles wat ek sien, is of in my winkel in S.A. (en ek verkoop dit goedkoper) of ek kan dit veel goedkoper hier by die groothandelaars koop. Selfs die V&A museum se servette het ek goedkoper verkoop as wat hulle dit daar verkoop!
Kyk, waar loop haal ek al weer stories. Sou tog interessant wees as mense begin praat oor al die “ornamente” in ouma of antie se sitkamer. Onthou julle die glas vertoonkaste – ons het in elke huis elke dingetjie in die kaste geken.
Oktober 14th, 2010 at 5:03 vm
Neil, voeg by die gelui van ‘n “grandfather clock” – soos in ons ant Hetta se huis in Kenwyn, Kaap was. Dommel weg met die salige klank in jou ore…
Oktober 14th, 2010 at 8:22 vm
ek onthou nou – dankie , sal weer die storie bekyk nou