baie jare terug toe die kreef nog geloop het in gansbaai, het ek voor die lang desembervakansie vir my buurvrou, daleen gebel, en gese daleen maak asseblief die “diepvries” vol . dan kom ons aant huise en dan maak ons kreef op elke moontlike manier, tot ons later tot agter ons se kele vol is vir die kreef se smaak
jimmy van port nolloth en sy kinders gaan in die kreefseisoen elke dag in die koue see in en dan haal hulle kreef se kind uit. dan dek annelize die tafel buite , kreef word gerooster op die buitevuur en die familie sit aan vir ‘n fees - wanneer jy ook die geleentheid kry om kreef te braai is dit ‘n okasie van gesels, kuier, stories te vertel en ook om as vriende en familie fees te vier
bokkie head het altyd groot tafel gedek onder die vyeboom in hermanus, dan gaan duik die peter en die kinders kreef , dan dek bokkie die tafel met ou silwer, blomme uit die tuin en bakke somerperskes en die kinders kom sit aan met hulle seelywe vol sout en sand en eet kreef, lag en gesels
vandag is kreef nie so volop nie, inteendeel nou gaan daar baie keer ‘n hele seisoen verby sonder dat die reuk van kreef ooit in my se neus kom sit en in ‘n restaurant bestel ek dit nooit – is of die kreef se siel nie saam kom op die voorsitbord met die pietersielieruiker en gegeurde rys nie
op die draai van die vorige eeu het die witmense wat grend was aan die kaap nie kreef geeet nie, eintlik het hulle op hulle neuse gekyk vir die wat dit wel geeet het. dit was die kos van die ander mense , die arm mense van die kaap. so met die tyd saam het die witmense verstand gekry en agter die kreef se lekker begin aan eet.
leipoldt skryf in polfyntjies van proe oor twee resepte wat vir my geil en heerlik klink
” haal die kreef uit die dop, stert en kloue. stamp dit fyn in ‘n vysel saam met dieselde gewig beenmurg. roer sout, witpeper, broodkrummels , 2 eierdooiers, ‘n koppie stywe room, ‘n grypie rissie en 1 eetlepel vars suurlemoensap by. skep in die lee kreefdoppe, stip met plaasbotter en bak in die oond “
ek het nog nooit van beemurg saam met see-se-kos gehoor nie , kan net lekker wees as hy dit voorstel
hy vertel van die eierkreef wat hulle op kalkbaai se rotse voorberei het en dat daar nooit geen skraapsel oorgebly het vir die klonkies nie – die resep van hom het blatjang by
” haal die vleis uit die kreef en sny in klein flentertjies, smoor die vleis dan met ‘n bietjie uie, blatjang, tiemie, peper en ‘n gekneusde rissie in botter of vet tot hulle mooi begin bruin word, voeg dan ‘n paar geklitste hoendereiers by en roer vinning tot alles bra dik is.”
ek sien vir hom sit saam met ‘n vriend, die koolvuur tussen die rotse, die pan op die vuur en kan hoor hoe hy in sy tong sy wyshede deel terwyl hy behaaglik lepels kreef mond toe vat.
vir myself is die lekkerste lekker om die kreef in bietjie water te stoom – nie te veel – se ‘n koppie. gooi die water in ‘n groot kastrol , saam met sout , dan gooi ek 3 lourierblare by, ‘n paar peperkorrels, ‘n stukkie suurlemoenskil, ‘n stukkie nartjieskil en ‘n gekapte ui.
sit die arme goed lewendig in, sit jou deksel op en stoom vir 10 minute. haal die kreef uit die water, gooi die water deur ‘n moeseliendoek en weer terug in die pot, gooi so 1 eetlepel brandewyn by en laat die water afkook tot helfte van die volume. gooi koue blokkies botter in, ‘n skeut neutmuskaat, proe vir sout en witpeper en roer tot jy ‘n heerlike bottersous het.
vat jou krewe na jou sontafel toe, sit vir elkeen van jou gaste ‘n kreef voor saam met ‘n sousbakkie vol bottersous. trek dan ‘n borslap aan en breek die kreef oop en trek die sagte vleisies so deur die botter – jy sal die hemel self op jou tong proe.