juffrou duckitt skryf dat hulle graag vir hogere tee [ high tea ] lamsniertjies met fynaartappelkors geniet het, maar dat sy liefs warm kakao aanbeveel in die plek van tee – sy het geglo dat die tannien in tee die vleis oneetbaar taaimaak en dat kookwarm kakao help met die vertering van die vleisgereg.
ek sal die niertjiegereg liefs sonder tee of kakao eet, maar wie is ek om die hogere vrou se raad te weerspreek
lamsniertjies saam met fynaartappel
kook 6 aartappels tot net sag, gooi by sout, witpeper, vars gerasperde neut, bietjie volroommelk en 1 geklopte plaaseier. die fynaartappel moet lig en romerig wees. as jy pietersielie het, kap fyn en klop deur.
kap vars uie fyn en braai saggies in bees – of skaapvet tot deurskynend – haal uit pan. maak jou nietjies skoon, sny in stukke en braai in dieselde beesvet, geur met sout, witpeper en ‘n bietjie aanmaakmosterd . voeg ‘n paar lepels room of jogurt in die pan , roer goed deur en laat saggies prut. skep die fynaartappel mooi in die rondte van jou dienbord. skep die niertjies binne-in en geniet ‘n heerlike ete.
gestoofde lamptjoppies
slaan die tjoppies plat met ‘n vleishamer. marineer die tjoppies in melk vir 30 minute. braai intussen dun gesnyde uie goudbruin in ‘n pan. plaas nou die tjoppies onder in ‘n gietyster oondbak, dan ‘n laag uie, gevolg deur broodkrummels, geur met sout , peper en gerasperde neut. herhaal ten minste drie keer. gooi ‘n bietjie vleisaftreksel bo-oor , sit deksel op en laat die vleis stadig stowe vir 30 minute. skud die pot, gooi nog aftreksel by indien nodig. sit deksel op en laat verder saggies stowe vir nog 30 minute. bedien bo-op fynaartappel.
aartappeldeeg
berei vooraf 8 onse fynaartappel
neem 2 onse botter en vryf dit in 4 onse meel , voeg dan 1/2 t bakpoeier by asook ‘n knippie sout. meng nou saam met die aartappel, voeg hier en daar bietjie water by om ‘n stywe deeg te maak. rol die deeg 1/4 duim uit en gebruik vir maalvleisgebak
maalvleispastei
gooi 2 koppies kookwater oor 1 kg maalvleis, roer en laat staan vir 10 minute. braai 3 fyngekapte uie sag in botter, gooi die maalvleis by. geur met sout, witpeper, neut en ‘n knippie naeltjies. gooi 8 gekapte tamaties by en laat prut vir so 10 minute, proe, gooi suiker na smaak by
smeer ‘n oondskottel met marmite en botter. sit die maalvleis in die skottel. sit die aartappeldeeg bo-op en bak tot mooi goudbruin. bedien met groenslaai , tuisgebakte witbrood en plaasbotter
ons het baie by die mount nelson gaan hogere tee drink. dit is altyd , vandag nog, ‘n heerlike uitgaan. die tafels kreun behoorlik onder die soet en sout. daar is ‘n massa vars blomme en kelners wat rondstap en tee en koffie uit silwerkanne inskink. jy kan gerus jou kinders volgende keer soontoe vat. eet niks na ontbyt nie en sorg dat jy so teen 1600 plaasneem vir ‘n heerlike kuier in die verlede.