pienangvleis op my aia hanna se manier


onse kinners ken van kerrievleis en ons lief dit, klein-se-tyd was dit soetboerekerrie, later onthou ek sult met ‘n kerriesmaak en die karooplase se  kerriefafval . iewers in my kop is daar kerriefrikadelle met ‘n uie en piesangsous en dan natuurlik bobotie met sy kerrie ondertone, so-ook hoenderkerrie , kerrieboontjies en blatjang.

pienangvleis is minder bekend in my se lewensjare, seker oorlat dit vir jou ‘n klomp werk is vir ‘n kooksel vleis, maar as jy die dag ‘n vol simfonie voor jou stoof wil dirigeer en op jou tong die diepte van ‘n volbloedkerrie wil proe , dan stel ek voor dat jy pienangkerrie maak soos leipoldt hom by sy aia geleer het.

ek wonder of ons ooit genoeg eer sal kan gee aan die aia’s van ons lewens, myne was miena, klein miena, eva. die nannies van die paarl en hartswater se name het ek nie in my hart opgeskryf nie, maar ek onthou hulle hande wat godsrykste seen elke middag vir my voorgesit het. hoe haar se donker oe my mond gesoek het om te sien of ek die seen van haar hande geniet. kyk en daar is min wat ‘n kookvrou meer gelukkig maak as ‘n kjend wat hom-se-kos alles opeet. dit maak haar dag ‘n lied en haar voete-tog terug deur die stof lokasie toe, ‘n gedig wat strofes in die stofpad saai .

sy is ons aia, ons nenna, ons tweede ma, ons swart of kleurlingma, die een wat ons soos eie grootgemaak het , al was ons slegs ‘n leenkind van die baas en die ounooi van die groothuis wat sy versorg en gekoester het, bloedjies en al.

leipoldt het groot respek vir  ” die skepsels “,  die maleiervroue van die kaapse kombuise gehad, trouens menigte van sy kosgeheime het hy aant mond van sy ayah hanna geleer en haar spoor stap ‘n pad deur sy kosgeskrewes.

die maleise mense van onse land het in die middel van die sewentiende eeu aan kaap gekom van indonesie , maleisie en indie en saam met hulle ‘n speseryskatkis vol geure, kleure en smake . die wondersmake is hier aan’t huise gemeng met die suid afrikaanse kruie , groente en slaggoed en uit dit uit het ‘n geurige en sagter kerriegeregte ontwikkel . een van ons erfenisgeregte van die besonderse groep mense is pienangkerrie . die woord se oorsprong is java waar die kerrie in sy oorspronklik vorm pindang kerrie geroep is.

nou hoe maak jy ‘n pienangkerrie

ken jou slagter en jou resep sal werk, so ook as jy jouse speserye koop by ‘n edel venter. een wat die pad van die speserye ken, al die pad uit die ooste  tot hier aan die suidpunt van afrika.  bly weg van die goed wat jy in supermarkte koop – dit is al so gefomfaai met bygooigoed, dat al wat goed bedoel was in die ooste reeds verslaan en trefkrag verloor het. ‘n goeie slagter en speseryewinkeleienaar raak soos ‘n huisdokter, jy stap jou pad saam met hulle – lewenslank – die band tussen jou en hulle ‘n naelstring van kennis en wedersydse respek.

aia hanna het as volg gemaak

laat jou slagter vir jou ‘n 1 kg skaap of lamribbetjie mooi in netjiese stukkies te sny [ probeer so ewegroot as moontlik ], was die vleis af in asynwater en maak goed droog. rol die vleis dan in ‘n mengsel van broodmeel, sout , maalpeper en ‘n bietjie droe gemmer.

gooi skaapvet in jou swartkastrol, sny 2 uie mooi fyn en braai hulle saggies tot die kleur van ryp lukwarte. haal uit die pot, plaas die vleis in die pot en braai saggies tot goudbruin. plaas die uie terug, sit die deksel op en laat die vleis stadig stowe vir sowat 40 minute.

skud broodmeel in jou vysel  dws veeg hom uit met meel. gooi nou die volgende in die vysel : 1 gekapte rooi tjillie, 1 gekapte groen tjillie, 2 eetlepels koljandersaad, ‘n duim vars gemmer, ‘n knippie growwe kaneel, 1 lemoenblaar, die fyn geelskil van ‘n halwe suurlemoen, 1 knoffelhuisie, 2 e botter, 6 naeltjies, 6 peperkorrels, stukkie stam van ‘n vinkelplant en ‘n eetlepel borrie. nou maak jy die hele gedoente fyn  met in jou vysel tot dit ‘n lieflike pasta maak.

meng die dan met 2 koppies suurmelk en 1/2 koppie kookwater waarin jy ‘n  eetlepel tamarind laat trek het. [ onthou om die tamarind se pitte te verwyder.

roer nou die tamarind en die suurmelk by die vleis in jou pot – laat dit saggies prut – hy mag nie kook nie. proe die sous, voeg sout by indien nodig  en stowe tot die vleis sag is. ek sal soos my gedagtes my lei ‘n koppie bulgaarse jogurt deurroer met skeptyd.

die vleis bedien jy op vedusie of begrafnisrys – een en dieselde begrip

geelrys

1 koppie rys

4 koppies kookwater

geur die ryswater met 4 kardomonsade, 4 naeltjies, 2 heel stukke pypkaneel , 2 teelepels borrie, 1 eetlepel  bruinsuiker en 1 teelepel sout

laat kook die rys vir so 20 minute, voeg nou 1/2 koppie pitlose rosyne in die rys, stoom tot gaar . roer  ‘n groot eetlepel koue botter deur, rasper vars neut bo-oor .

bedien die pienangkerrie saam met appelkoosblatjang , pangeroosterde klapper en tamatie-en uieslaai

die moet die mees spesiale resep op soutenpeper wees. dit is ‘n ode aan al ons se voorvaders en moeders, die aias en knegte , die volk van onse mooie land wat soveel bygedra het tot die skatte wat ons vandag weer kan optower en geniet as erfeniskos.

About these ads

About niël stemmet

kok, motiveringsspreker, reisiger, skrywer, versamelaar, restaurant-en wynplaaskonsultant, gastehuiseienaar, musiek- en natuurliefhebber, storieverteller, luisteraar, binne-en buitehuisekonsultant, mens-se-mens, rubriekskrywer vir TUIS/HOME, weeklikse vrydagoggendpraatjie op Radio Kingfisher kopiereg voorbehou | concept and copyright protected : neil stemmet 2014 View all posts by niël stemmet

4 responses to “pienangvleis op my aia hanna se manier

You must be logged in to post a comment.

Follow

Get every new post delivered to your Inbox.

Join 867 other followers

%d bloggers like this: