drie outas en kerspasteitjies


my ma vertel gister by die kerstafel en toe kom bly die herinneringe soos ‘n engel in my kop.

op dassieshoek het die volk altyd ou krismis by die huis kom sing. dan bak ouma nellie soetgoed en  kry elke gesin ‘n krismisboks.  dan staan die  volk neffens die eetkamervenster onder die akkerboom, geskrop van kop tot toon, elk met sy eie nuwe winkel krismisklere aan. ek onthou ook ‘n bend van konsertina, ‘n saagkitaar en iewers ‘n trompet of was dit later in die staptyd van my lewe ?

die voorsanger met die mooiste stem sit die noot in – en dan begin hulle die offerhandes van krismisliedgoed voor oubaas koot en oumies nellie se voete te le. ‘n stem vermaan : sing mooi , kleinmiena jou tune is eit !

sti—lle-na-g hei—lig–e nag

a—lles rus ei-n-saam wag

sle—egs ma-ri—a

ge-see—-n-de vro–u

by ha kin—-tjie met je—sus soe trou

soe—-te jim—mel–se ru—s, soe—te jim—mel-se rus

- die lied van joseph mohr word uitgerek en swaai soos ‘n ou skoppelmaai van woord tot woord , die monde trek hom soos ‘n lang bond sleep agter ‘n bruid aan.

ons sit dan stil om die eetkamertafel, my ma vee ‘n traan,  die parafienlampe se gssss tppp die enigste geluid, buiten die krismisliedgoed wat soes ‘n  bont lappieskombers om onse ore kom le.

na die konsert doen oupa ‘n gebed vir die volk en dan word die krismisboks oorhandig met  vreeslike dankie oubaas en oumies prewels. die kjenders se oge blink om te sien wat daar die jaar in die krismisboks is.

nou een jaar het oupa  vir elke volksgesin ‘n draadloos gegee. dit was nou vir jou ‘n groot krimisboks en die volk het vir jare daarna nog gepraat van die geskenk. maar oupa had ‘n voorwaarde. in sy kreukelstem met het hy gese : elke vrydagmiddag moet julle die radio’s kom inhandig vir die naweek !

die volk was verstom, want wat vir ‘n krismisboks is dit dan daai, maar sien oupa het gesensuur, en sy sensuur was op die skoffelmusiek wat oor die draadloos gespeel is , veral springbokradio  . vrydaemiddae het die volk elkeen ‘n kan wyn gekry, elkeen het sy eie kan onder die wakende oe van oupa kom vul. en dan was daar altyd groot partytjie en baklei die aand onder by die volk se huise en oupa het gese musiek sou net die  onguurheid verder aanblaas

dawid bak die heerlikse kerspateie of soos hul hom in ingels roep mince pies

vrugtemagies

500 g gekapte droevrugte

120 g gerasperde appel [ skil hom eers en haal die stronk uit]

120 g gemengde lemoenskil – fyngekap

120 g skaapvet of botter

120 g suiker

120g gekapte amandels

die fyn skil en sap van ‘n groot tuinsuurlemoen

50 ml brandewyn of rum – lekkerder

5 ml gemengde speserye

2 ml fyn kaneel

2 ml vars gerasperde neut

1 ml fyn witpeper

1 ml fynsout

maak ‘n pasteideeg van 200 g koekmeel en 110g botter, knippie fynsout, 1 e suiker en ‘n paar lepels water om dit te bind

meng eers meel, sout en suiker, vryf dan die botter in en bind met water,  rol uit in 2 sirkels – 1 kleiner vir bo en ‘n groter sirkel vir onder – dws daar waar die vulsel gaan slaap,  plaas die groot sirkel onder in jou pannetjies , skep die vulsel in – sit die boonste sirkel op – druk die deegies vas met jou vingers en maak met ‘n vurk mooi rante. prik die bo-kant van die pasteitjies – sit die hele pan met pasteitjies in die yskas vir ‘n uur. smeer die bokante met melk bak op 180 C vir 10 tot 15 minute

 

 

 

 

 

 

 

Kersliedjie

Drie outas het in die haai Karoo

die ster gesien en die engel geglo

hul kieries en drie bondels gevat

en aangestryk met die jakkalspad

al agter die ding wat skuiwend skyn

op ‘n plakkie, ‘n klip, ‘n syferfontein,

oor die sink en die sak van Distrik Ses

waar ‘n kersie brand in ‘n stukkende fles,

en daar tussen esels en makriel

die krip gesien en neergekniel

Die skaapvet, eiers en biltong

nederig gele voor God se klong

en die Here gedank in gesang en gebed

vir ‘n kindjie wat ook die volk sou red…

Oor die hele affere het uit ‘n hoek

‘n broeis hantam agterdogtig gekloek

DJ Opperman

About these ads

About niël stemmet

koskenner, reisiger, skrywer, fotojoernalis, versamelaar, restaurant-en wynplaaskonsultant, kunsversamelaar, gastehuiseienaar, musiekliefhebber, natuurliefhebber, storieverteller, luisteraar en binne-en buitehuisekonsultant kopiereg voorbehou | concept and copyright protected : neil stemmet 2012 View all posts by niël stemmet

2 Responses to “drie outas en kerspasteitjies”

You must be logged in to post a comment.

Follow

Get every new post delivered to your Inbox.

Join 668 other followers

%d bloggers like this: