‘n ou laai van my is om vleis droog te bak op 140C. kan nie onthou wie my die geleer het nie, al wat ek weet is – dit werk – met droogbak bedoel ek, dat jy jou vleis op ‘n rakkie bak dws hy bak nie in sy eie vet nie – meer gesond en meer bros lekkergoed om te kou
vir een of ander rede was varkvleis altyd skaars toe ons kinders was, soms was daar varkboud en meerkere heerlike krummelvarktjops. vark is ook in wors en frikadelle gebruik, maar eers later van jare het vark begin gewild raak. vandag is dit amper stapelvleis , omdat dit billik is en jy ten minste verseker is jy eet ordentlike vleis. ek koop altyd myne by joostenberg annerkant stellenbosch.
varkmagie – sy ingels is pork belly – so maak mens
vir twee kilo vleis nodig jy omtrent 3 teelepels fynsout, vars witmaalpeper en soveel vinkelsaad soos jy kan invryf – dit is al – jy kan as jy grend voel ook dun gerasperde suurlemoenskil en droe salie bysit
sny die vetjie oorkruis so diep en veelkere soos jy kan, maak die vleis dan goed droog en dan vryf jy hom met die fynsout , veral tussen die kepe. laat staan die vleis vir ‘n halfuur. veeg al die water af [ die sout trek vog uit die vel ] van die vleis dws jy maak hom weer droog
vryf nou growwe seesout, wit maalpeper en vinkel in die vleis in – gooi ‘n koppie vars water onder in jou roosterbak , sit die vleis op die draadrakkie en vat hom oond toe – bak hom vir te minste 3 ure op 140C
ek bedien die vleis saam met heerlike fynaartappel en komkommer- en asynslaai
jy kan ‘n sousie maak van die pansappe, maar ek verkies die vleis soos hy is – sag, bros en heerlik
die is werklik besonders lekker – gou-gou sal al wat vriend is weer by jou aan’t huise kom vroetel-vra : wanneer bak jy dan weer ‘n ou varkmagie man
Januarie 24th, 2011 at 10:58 vm
Njammies! Ons het ystervarkrug so oor die kole gebraai (waarskynlik ook teen omtrent 140
)
Januarie 18th, 2011 at 6:53 nm
Ek het in die Vrystaat groot geword en my man in die Kaap, miskien is dit hoekom ek so baie van varkmagie hou en hy weier om dit te eet?
Ek sal maar moet wag tot ek dit eendag by jou tafel kan eet.