resensie van ‘n skrywer


liewe leser

soms word ‘n mens stil. stil wanneer iemand jou siel en jou hart raaksien en die lewe sien deur jou oë. dit is raar en gebeur min, omdat ons so besig is en so min tyd het om werklik te luister. die digter betsie van niekerk, het die volgende geskryf oor die boek sout+peper.

In sy boek “In search of lost time” beskryf Marcel Proust hoe hy na ‘n lang afwesigheid terugkeer na sy tuisdorp en sy ma vir hom op hierdie triesterige wintersdag ‘n koppie tee aanbied, asook ‘n “petit madeleine”. Wanneer hy die eerste mondjievol tee drink en die krummels van die soetigheidjie proe, sê hy “An exquisite pleasure had invaded my senses …” Hy kom tot die gevolgtrekking: “When from a long-distant past nothing subsists, after the people are dead, after the things are broken and scattered, taste en smell alone, more fragile but more enduring, more immaterial, more persistent, more faithful, remain poised a long time, like souls, remembering, waiting, hoping, amid the ruins of all the rest; and bear … in the tiny … drop of their essence, the vast structure of recollection.” Met die hap van ‘n petit madeleine-koekie is dit of die ou huis wat hy geken het, as’t ware uit sy fondamente opstaan, dan die dorpie self, die klein dorpsplein, al die skakerings van onweer en sonlig – soos wanneer klein opgevoude Japannese papiertjies in water geweek word en hulle dan ewe skielik wonderbaarlike vorms aanneem – blomme, huise, mense… Met ‘n klein happie en slukkie, roep die geure ‘n hele lewe op.
In Niel Stemmet se boek Sout en Peper gebeur hierdie kleine wonders bladsy vir bladsy. ‘n “anijsteekoekie en rooibos-en-kondensmelktee” laat hom skryf: “my ouma miemie het op koringberg in ‘n eenvoudige huisie met ‘n longdrop agter in die jaart gebly. Ek onthou ‘n skoon werf en ‘n bobbejaan wat aan ‘n ketting was. Ons bulletjies was doodbang vir die bobbejaan. Ek onthou ook ouma se tee. Dit het heeldag op die stoof staan en stoom. Regte ou rooibosteeblare saam met plaaswater gekook en bedien met kondensmelk in outydse koppies van porselein. Ons kinders was versot daarop en kon nie genoeg daarvan drink nie.”
Dit is asof moeders en oumas en tantes hulle spierwit voorskote ombind en vooroor gebuig by ‘n witgeskropte houttafel staan en kos maak. Dit is asof deure oopgemaak word na ou vertrekke waarin die geure van anys en kaneel hang; die leser word saamgeneem op ‘n kosbare reis van sintuie en herinneringe. Met sy erfeniskos en fyn genuanseerde beskrywings van mense, huis en omgewing, roep die skrywer op nostalgiese manier ‘n vervloë tyd op – ‘n tyd ingeprent in die psige van die meeste van die lesers. Sy egte omgaan met woorde sluit nou aan by die egtheid wat ook in die resepte uitgebeeld word. Dit is veral die egte omgaan met eenvoudige bestanddele wat tref; die respek wat daar is vir die enkel bestanddeel; die tyd wat spandeer word om hierdie bestanddeel met toewyding en deernis tot sy reg te laat kom.
Sout en Peper is ‘n kosbare toevoeging tot wat nou reeds beskou kan word as die genre van kookkuns in Suid-Afrika. Maar hierdie boek wil meer wees as die opskryf van resepte en geheime – dit is ‘n uitnodiging tot ‘n reis – die skrywer stap met ooglopende verwondering en respek op die spore van die Suid-Afrikaanse kook-geskiedenis. Maar dit is asof hy ons wil terugbring tot die egte eenvoud van kos: ons moet tyd maak vir tantes en oumas; vriendinne en kook-meesters tegelyk. Die name van vroue wat so kwistig gebruik word, klink in sigself na ‘n ode aan geslagte vroue wat die dieper geheime van “slow cooking” lank reeds gesnap het: yvonne, wilna, pikkie, elsabe, beax, steffie, marietjie …
Met sy verwysing na Heimwee van JRL van Bruggen wil die skrywer as’t ware die leser inlok in die weelde van hierdie nostalgiese reis. Maar dan raak dit baie meer as ‘n blote weergawe van ander se resepte – die skrywer self se intense belewenis van kleur en geur , sy kleinseuntjie-bewondering vir kos en kleur, word die eintlike juweel van hierdie boek. Die leser kan bloot nie anders nie as om saam met hom te loop nie; saam met hom opgewonde te raak oor juffrou duckitt se dansaande, sy ma se hemelse soetpatats, somergeelperskes, ‘n huilmooi dag in de kelders, sondagmiddagstiltes…
Die foto’s is in die boek eggo die inhoud – eenvoud en egtheid, die lieflikheid van die enkel item, die eenvoud van ‘n bietjie blomme in ‘n potjie gedruk … want kos staan nooit alleen nie. Kos is die resep van lewe; dis geskiedenis, dis huil en lag, dis menswees in sy volheid – als in een. Niel Stemmet slaag daarin om aan die leser ‘n unieke en heerlike reis te bied; kuiers by familie en vriende, ‘n ete saam met ‘n vriend in die Kalahari; hy laat die leser weer verwonderd kind wees; hy leer ons weer proe aan ‘n kollektiewe kos-verlede vernuftig gekonstrueer deur sy raak beskrywings en passievolle woordgebruik – en op die koop toe kry die leser heerlike resepte en waardevolle wenke van hulle wat weet …
Betsie van Niekerk, Upington

About niël stemmet

kok, motiveringsspreker, reisiger, skrywer, versamelaar, restaurant-en wynplaaskonsultant, gastehuiseienaar, musiek- en natuurliefhebber, storieverteller, luisteraar, binne-en buitehuisekonsultant, mens-se-mens, rubriekskrywer vir TUIS/HOME, weeklikse vrydagoggendpraatjie op Radio Kingfisher kopiereg voorbehou | concept and copyright protected : neil stemmet 2014 View all posts by niël stemmet

You must be logged in to post a comment.

Follow

Get every new post delivered to your Inbox.

Join 890 other followers

%d bloggers like this: