hoofstuk 1
kerk
sondag is die groot dag van die week. dan word die kisklere uitgehaal [die ou mense het hul sondagklere in ‘n kis gebere, vandaar die naam daarvoor], daar word van vroemore of al gewas, die krullers kom uit die hare uit, die lipstiek kom op my ma se lippe en die perfume word aangespuit, want ses dae moet jy arbei, maar op die siewende dag moet jy rus en jou Herder dien. jy en jou hiele gesin, want dit is die dag van die Here.
ons ry met die donkiekar tot by die kerk. ons donkies se name is skeweoor en hardlawaai. ons kerk is vir die plaasmense – oumies en oubaas en hul kinders gaat na die dorp se kerk.
die jaart by die kerk is vol klippers dus trap jy hoog, want jy dra jou kerkskoene. my pa se skoene is blink gepolish, sy suit sit mooi, die hemp se skawemerke wys agter in sy nek. sy hoed is skoongeborsel en daar pronk ‘n nuwe tinktinkieveer daarin.
my ma dra haar sagte blou krimpelienrok met die wit gehekelde kraag wat sy by haarse ma geerf het.
ouma kon vrieslik mooi hekel, sy het by oumies se ma geleer en sy het baie van oumies se tafellappies gehekel – so vertel mamma.
die rok span styf hier om my ma se heupe, haar groot borste skoppelmaai een vir jou een vir my soos sy stap. haar reguit hare is mooi netjies vasgetrek agter teen haar kop. die wit hoed vasgesteek met ‘n haarspeld.
ek kyk hoe haar enkels swel bo haar swart skoene uit, saam met die spatare wat om haar bene soos bobbejaantou klim.
die kinders, is nou ons drie, stap half skoor agter pa-goed. die kerkklok lui hier bo ons ore en pa draai half omgealie om en sê : “kom nou jas, mietha, grietha goed” dominees staan voor by die deur – op die hoogste trap, hy groet ma, pa en dan elke kind in volgorde van sy geboortejaar – vir grietha laaste, want sy is mos die kleinste, ek is die middelste en jas is die oudste.
in die kerk staan die preekstoel met die woorde : God slaap nie. ek weet nie hoe God dit hou nie, want ek raak so vaak as ek nie genoeg slaap nie, dat my oë aan die brand wil slaan.
daar is ‘n antie wat die traporrel speel en ons sing altyd soos ‘n ou trekklavier agter haar note aan: Nader my God by U. my ma sing voor, grietha kan nog nie sing nie – sy moet stilbly.
die dominee maak my bang. hy moet die evangelie van die Jirre verkondig, maar hy praat so hard van God se straf. dan wys sy vingers bo in die lig en dan slaan hy met sy hand op die God slaap nie, preekstoel. soms skrik ek so groot, dat ek onder die bank wegkruip.
ek hou die meeste van die kinderpreke want dan is dominees se stem sag en hy bring altyd ‘n pop, of ‘n dier, of ‘n duif of iets buite die kerk saam.
ek probeer hard om te luister na die preek, want ek is bang vir God se straf, maar ai – moet net nie vir ma se nie – my gedagtes is buite saam met die duiwe in die bome. en die praat maak my vaak, ek wil net slaap. my ma tik my aan my skouer as my jis uit die bank uitgly.
my hare wat so krul maak my mal, ma stryk my hare, ma sit straightner op, ma maak dit vas met rekkies op my kop, dan trek ma haar ou sykous oor.
Ai, Jirre bid ek elke sondag as ek op die harde kerkbank gaat sit – gee tog laat my hare reguit raak – seblief tog Jirre – ek vra dit nie omdat ek dit verdien nie – maar om genade alleen – seblief.
elke sondag bid ek vir my hare se reguit. kom sondagaand klim ek vroeg in die kooi agter my sussie se rug in, met die wete dat die Jirre more, as ek wakker word, dalk my hare reguit sal gemaak het.
ek is ‘n kindjie
klein en teer,
maak my hartjie
rein, o! Heer,
dat niemand
daarin woon nie
as U alleen, o Heer.
Hy kan wiet ma – is Hy kan – Hy het dan water na wyn geverander, vir baie honger mense brood en vis uitgediel, op die see se water geloop, mense gesond gemaak – sommer net so – so as ek nou mooi genoeg vra en soebat; Jirre, seblief tog toe maak myse hare reguit, dan sal hy mos luister, né ma.
ma weet die Jirre hoor elke dag so baie gebede en ek dink nie hy kom by almal sin uit nie ma, ek dink ook dat oumies se witmense se gebede voor staan en ons bruinmense s’n agter, maar weet ma as ek nou vroeg genoeg en mooi genoeg bid – kan ek net dalk eendag voor in die ry kom met my gebed voor God gaan slaap.
my ma kyk my die kant en daai kant toe en sê: die Jirre het jou gemaak soes jy is – laat staat jou hare – jy is mooi soes jy is. ek staan en kyk ma aan met myse blou oë. “ag, Jirre ma“ my ma mik na my kant toe met die vadoek : “lat staan jou bekkigheid, klein aapstert, jas patat !“, sy mis my boude net – net en sê vir my: “kom sit my kind”.
sy gooi vir ons oros en water. my kind jou bloed is deurmekaar – daar is wit afrikaner daarin, swartmens, franse, hollandse en ook maleisiese bloed. is die dat jou hare so ferfomfaai is, jou bruinkop wat kroes soos ‘n seespons. maar in jou twee oë kan ek jou siel lees. jou oë is die kleur van jou oupa sin – blou.
ek kyk my ma en sê: ma, ma wie is my oupa dan. my ma kyk my – haar oë is stil. sy kyk verby my vir die dorp se kerk almanak met die toring en sê: my kind – hy’s lankal dood. maar sy kyk nie in myse oë nie. ek ken ma as sy soe kyk : sy lieg.
ek staan op, skuif my stoel terug en los my ma alleen by die groen melamientafel sit. my ma se boude hang oor die stoel se sitplek. haar skouers lê vorentoe. sy sug. ek stap uit en maak die agterdeur se bo-deur toe, agter myse gat.
nota – om jou hare te laat groei
meng 1 eetlepel parafien, brandewyn en kasterolie tot ‘n pasta. smeer jou kop ordentlik – trek ’n plastieksak oor en gaan sit in die son. was uit en gebruik soos nodig.
Op skoon blad oorkant die teks
halleluja 286
1. doen slegs U wil, Heer, U wil met my,
U, pottebakker, met my, die klei;
vorm my en maak my net soos U wil;
op U slegs wag ek, needrig en stil.
2. doen slegs U wil, Heer, U wil met my,
toets en deursoek my, al moet ek ly!
witter as sneeu, Heer, was my vandag;
laag aan U voete wil ek steeds wag.
3. doen slegs U wil, Heer, U wil met my,
moeg en verlate, o staan my by!
raak en genees my, Heiland en Heer;
U kan almagtig oor my regeer!
4. doen slegs U wil, Heer, U wil met my,
tot heel my lewe U is gewy.
maak van my hart, o Heiland, U troon,
tot elkeen Christus in my sien woon.