Category Archives: beskuit

anysbeskuit


met die dat ons nou van koffie praat sal anysbeskuit seker die logiese opvolg wees op die koffiestorie. nou die aand het ek lig geroosterde anysbeskuitstukke saam met hoenderlewerpatee by die restaurant hemelhuijs, te 71 waterkantstraat, kaapstad geeet – dit was ‘n hemelse kombinasie

jacques het die anysbeskuitresep by sy ouma gekry.

aartappelsuurdeeg

maak die die vorige aand aan deur as volg te werk te gaan. gooi 2 t suiker en 2 t sout en 1 klein aartappel wat jy fyn rasper in ‘n middelslag konfytvles wat jy half vul met louwarm water, draai die deksel lig op en maak toe in ‘n handdoek

die volgende more haal jy die  1/2 te van die aartappel uit die vles.  voeg dan by die aartappelwater 2 e suiker , 1 e sout en een klein aartappel. maak die vles tot bo toe vol met lou water.

kook 250g botter, 2 koppies suiker en 3 koppies melk saam en roer tot die suiker gesmelt is, laat dit afkoel

gooi die aartappelwater deur ‘n sif by 2.5 kg meelblom en 1 e anys. voeg die bottermengsel by en meng tot jy ‘n lekker deeg het. knie baie goed. laat uitrys, knie dan af en maak bolletjies wat jy in gesmeerde broodpanne sit. laat rys tot die panne vol is en bak teen 180 C vir sowat een uur.

laat afkoel, sny in beskuite en droog uit in jouse louoond of eet ‘n paar van die stukke met plaasbotter en doop dit alwetend diep in jouse soet koffie .

 


josie se allerlekkerste beskuit


josie stow is ‘n chef en ook ‘n wonderlike skrywer . ek ken haar van haar dae by tswalu, toe sy die kospotte daar die oog gegooi het. sy het ‘n wonderlike kookboek uitgebring met die naam african kitchen. ons kook gereeld daaruit , omdat die resepte afrika eer en omdat alles lekker is

ek deel vandag haar beskuitresep wat ons een maal elke twee weke bak

1 kg bruismeel [ sien vorige soetmelkbeskuit - hoe om jou eie bruismeel te maak ]

4 e bakpoeier

2 t sout plus knippie witpeper

250 g botter gekap

675 g sagte bruinsuiker

225 g sonneblomsaad

15o g semels

handvol upington rosyne of robertson se korente

1 e anys

500 ml karringmelk

125 ml sonneblomolie

2 groot eiers geklop

oond op 180 C. meng die bruismeel, bakpoeier, sout en botter saam todat dit lyk soos mieliemeel. voeg nou die suiker, sade, semels, rosyne en anys by . meng die karringmelk , die olie en die eiers saam in ‘n bak.  roer in die deeg in.

rol die deeg in balle en plaas twee – twee langs mekaar in gesmeerde broodpanne. bak vir 1 uur. keer uit pan en koel af op draadrak. breek uitmekaar en droog uit in die oond.

die beskuit is heerlik by jou smorenskoffie, menigte dag as ek algaar nie tyd had vir ontbyt, gooi ek sommer  twee stukke in my beker en eet dan pure lekkerbek met ‘n teelepel die nat beskuitkrummels en stukke rosyne uit die beker uit.

laat my dink aan vars witbrood gesmeer met plaasbotter, soms dun marmite. en dan , dan druk jy dit bietjies, bietjies in jou beker  tee en die botter meng saam met die tee. ek het iewers toe ek kind was gelees van die bottertee wat die monnike in die himalayas drink, dus as ek my brood so indompel en die botter maak ‘n dam bo-op my tee is  ek saam met hulle – pure saligheid.


soetmelkbeskuit en hoe maak jy jou eie bruismeel


kyk vandag is bakdag , was nou al soetkoekies, netnou boerbeskuit en nou gaan ek afsluit met soetmelkbeskuit – die woord soetmelk is so ‘n mooi woord – wie onthou die du plooy’s van soetmelksvlei se draadloosstorie met die pragtige rachmaninoff se rapsodie op die tema van paganini, as voor- en agterwysie. ek onthou nie die storie nie , maar die musiek is steeds in my ore

1.5 kg bruismeel

10 ml kremetart

2 ml sout

smelt die volgende saam

250 g botter

300 g suiker

650 ml melk

40 ml sonneblomolie

laat die bottermengsel afkoel tot louwarm. gooi die mengsel dan by die droe bestandele wat jy klaar goed-deurgemeng-het. meng die mengsel met ‘n houtlepel en knie liggies.

vorm bolletjies en pak in gesmeerde panne. bak teen 180 C vir 1 uur tot die bo-kant soos ‘n goue koepel begint lyk. keer uit – koel af . breek in stukke en droog uit ‘n lou oond

nou het jy nog ‘n uitdeel-weggee-geskenk-persente

bruismeel

1.8 kg meelblom saam met 30 g koeksoda en 60 g kremetart . meng alles goed saam en plaas in lugdigte houer


boerbeskuit – ‘n ou resep saam met soetsuurdeeg-se-resep


as ek aan die beskuit dink dan dink ek aan die plase annerkant loeriesfontein, granaatboskolk en al die plekke waar die water so brak is dat jy hom in die gebak kan proe, deur die jare het my tong ‘n smaak ontwikkel vir die gebak, veral as dit soetsuurdeegbrood is.

500g botter

500 ml kookmelk

10 ml sout

2.5 kg broodmeelblom

500 ml soetsuurdeeg – sien onder

smelt jouse botter in kookmelk, voeg die sout by en laat afkoel – ek sal so ‘n knippie witpeper ook bygooi. maak ‘n holte in die meelblom en gooi die insuursel en die loumelkmengsel daarin, meng tot ‘n stywe deeg, voeg louwater by indien nodig . knie baie goed en hou op ‘n warm plek. bedek nou die deeg met ‘n vadoek en laat rys tot dubbeld die deeg se volume.

vat die deeg in jou hande en rol die deeg uit in ‘n lang rol. plaas 2 rolle in elke broodpan wat jy met botter gesmeer en met meel geskud het, sit ook gesmelte botter tussen die twee beskuitrolle . smeer nou botter bo-oor en laat weer op ‘n warm plek rys. as die deeg weer dubbeld sy volume het, bak jy die panne teen 220 C vir 1 uur. toets vir gaarheid

keer uit en breek in stukke – ek onthou die beskuit sonder fieterjasies – dit het my aan skerp bergpieke laat dink  – droog uit in ‘n koel oond

soetsuurdeeg

15 ml sout

15 ml goue bruinsuiker

250 ml kookwater

250 ml yskaswater

250 ml mieliemeel

250 ml warm water

gebruik ‘n diep kastrol met ‘n deksel wat dig pas. gooi die sout, suiker, die kook-en kouewater daarin en meng met ‘n houtlepel. strooi die mieliemeel oor. maak die kastrol dig toe en laat oornag op ‘n warm plek staan. die volgende more voeg jy 250ml warm water by , asook genoeg broodmeel om ‘n matige beslag te kry. strooi ‘n bietjie meel bo-oor en sit weer die deksel op. draai die kastrol toe in ‘n handdoek en plaas op ‘n warm plek. binne 1 uur behoort die deeg gereed te wees om te knie – gebruik die soetsuurdeeg mengsel in beskuit, maar moet dit dan nie te veel knie nie.

met die orige soetsuurdeeg moet jy maar brood bak. hoe verlang ek my ouma nou – kyk hulle kon knie , seker die dat die oumense sulke lelle onder hulle arms gekry het op hul oudag – was van al die knie as jy my vra.


Follow

Get every new post delivered to your Inbox.

Join 670 other followers