Category Archives: liefkos

kaiings – ‘n liefkosstorie


stephan skryf as volg : Die ou mense het gewoonlik die vet van die skaap se stert daarvoor gebruik . Die skoon vet is net uit gehaal en dan in ‘n pan uit gebraai . Tot net die kaings oorbly. Hoe water my mond nou.

my ouma miemie aan my ma se kant was vreeslik lief hiervoor, sy het altyd hare stadig uitgebraai tot dit brosbruin was en dan neffens die bord neergesit en dan het ouma met ‘n groot glimlag agter die bak gaan sit en begin om wegtepak. sy het oud geraak kaiings en al, dit was voor die dae van cholestrol en bangmaakpraatjies van die hartsiektes . bygese ouma was ‘n harde werker en die kaiings was haar petrol.

ons ry eendag hier op boontoe na upington se wereld en op van rhynsdorp kan jy wragtig kaiings koop in ‘n wegneemplastieksakkie. ons het omtrent weggele, maar hier na die tiende hap het die geil agter my kiewe kom sit. vir my moet hy darem warm wees en ek moet ‘n tamatie of twee he om die geil te verwure.

die ou mense, kom ons se die arm oumense , het elke kriesel van ‘n slagdier gebruik en verwerk, elkeen had sy eie gunstelingsnit van die offerdier. vir party was dit die kop en in die kop was daar vele offerhandes : die wange, die oge en someer. in loeriesfontein by ant annie het ons een middag aan tafel gaan aansit. na die gebruiklike : ” maak toe julle oe “

[ terwyl die wind om die hoeke van die huis huil, dit was so droog in daardie tyd, begin sewentigs, dat tot die bloekombome begint vrek het - net die weekklaag van die wind, die windpomp se kerm klanke en die skape se bler om die stilte van die droee vlaktes te versin - kyk die mense van my het werklik die grond lief gehad, maar vir ons kinners was dit 'n eensame, sou ek kon se - godverlate plek ]

….  sit sy twee bakke voor met groot trots in haar mooi regop lyf. met groot verwagting sit ons kinners kwylbek en wag vir die karoo-skaap-se-vleis. en daar onder die twee bakke met die warm deksels le hulle – skaappere en in die anderbak bros gebraaide skaapstertjies – ek wens jy kon ons gesigte sien en my ma s’n en tante annie s’n , want die kaapse familiegoed , behalwe my pa, het nie die karoo spesialiteite waardeer nie.

later by tant johanna, wat op granaatboskolk, gebly het, het ons skaapvleis geeet, soos ons hom van my ma geken het, heerlike tjops, boud, blad, wors en ander snitte. die mense was godvresend en eerbiedig daar, sondagmore vroeg is ons van kop tot tone geskrop en in ons sondagklere het ons almal op ‘n ry in die in die sitkamer gaan sit om te luister na die preek op die draadloos – in stilte, net die dominee se praat oor die kortgolf met hier en daar die ssjuu-geluid en fluitgeluid soos die radiogolwe die man van god se stem verloor en wen.

om weer by die kaiings se storie uit te kom.

die ou mense het ‘n handmeul gevat en die skoonvet van die slagdier met die growwelem gemaal, gooi ‘n bietjie water in jou leipoldt kastrol, maak hom goed warm en skep die vet in [ hou die hitte dop, hy moet nie te kwaai wees nie ] , soos die sagte vet bros uitbraai sal die kaiings vorm en bo begint dryf, blerts hom hier en daar met ‘n bietjie kook-volroommelk terwyl hy uitbraai. skep die kaiinggoed  uit op ‘n vaallap om die vet te absorbeer.  strooi met seesout en swartmaalpeper en eet hom skoon of op plaasbrood gesmeer met plaasbotter of op jou morepap saam met ‘n bietjie bloekomheuning ,’n skeut vars suurlemoensap en ‘n wasem kaneel.

die vet wat agterbly in die kastol kan jy laat afkoel, hier en daar ‘n naweltjie indruk en eenkant hou vir sondag brosaartappels.

van die mense het hom bo-op pampoen gegooi met sout en maalpeper en dan in die oond gebak tot die kaiing se geil in die pampoen se lyf gaan bly het – ek sal blokkies fetakaas oorstrooi en stukke groenvye.

wa die storie en gebruik van kaiings vandaan kom weet ek nie , wel dat die vetstertskape se sterte altyd vir die maak van kaiings gebruik is dit wil se die resep is so oud soos die berge.

die oumense het ook gepraat van kaiingklippies – die was klein en swartrond soos die lyfies van kaiings en is in die kaiingveld gekry – die noord- en noordwestlikestreek vanaf namakwaland tot en by britstown.

ons praat ook van jou kaiings gaan braai of jou kierang gaan braai, soms ook van kierangkjend, dit wil se jouse sonde sal uitkom met die loop van vadertyd of jou maag se groei.

fanus rautenbach skryf as volg :

En Sebastian Kloon pleeg poësie:

“Waarom ‘n Koning nie kaiings ken nie”
is moeilik te verklaar
Die rykes ken ook nie kaiings nie.
Hulle kry net so swaar.Maar van brood alleen kan mens ook nie leef nie
Dit is ‘n lewenswet
As jy nie het wat jy wil eet nie
Eet dan wat jy het!

Wees spaarsamig
Maak dit botter by die vis
Want gisteraand se oorskiet
Word vanoggend se dis.

Maar wat van Marie-Antoinette
In ons geskiedenisboek:
“Die gepeupel het nie brood nie?
Gee vir hulle koek!”

Daarna kom die advertensie:
Mnr Baker beplan dit fyntjies:
Hy noem sy nuwe koningskoekies
“Marie se Beskuitjies”!


liesbet se geurige melkkos


soms kry ek ‘n storie so mooi, dat ek niks daaraan wil peuter nie, die storie kom van my niggie elize. geniet

Neil, Hierdie melkkos resep het ek so aangepas aangepas vanaf ‘n Leipoldt resep tot hy vir my reg is. Die resep is vir twee regverdige porsies – vir my en Bok. Die geheim van hierdie resep is groot geduld, baie liefde en ‘n allemintige goeie “attitude” tydens die proses. En dan, dan gaan sit jy aan – en as daai eerste lepel in jou mond grondvat en die geure ontplof – voel dit of niks anders hier op aarde ooit weer sal saakmaak nie. ‘n Baie soet muskadel smaak vorentoe saam met my melkkos.

Soos Pikkie my altyd genoem het, Liesbet, sal ek hierdie dan Liesbet se melkkos noem:
1 liter volroommelk (niks se ge 2% nie!)
1 eetlepel bruinsuiker
1 eetlepel heuning
2 kaneelstokkies
4 heel kardamompeule
3 ster anyssade
1 vanieljepeul (oorlangs oopgesny)

Die melk, suiker, heuning en speserye kom in ‘n groot kastrol met ‘n lekker vaste boom – baie, baie stadig warmgemaak. Die doel is hier om die melk te “infuse” met die speserye.

Neem nou 1 koppie meel en 1 eetlepel botter en ‘n knippie sout (ek het lankal die invrywery laat vaar en gebruik nou die voedselverwerker) – die meel en botter meng jy in die voedselverwerker met die einaste bietjie water drupsgewys bygevoeg totdat jy ‘n krummel of frummel effek het.

Hierdie frummels kom nou baie stadig en bietjie, bietjie by jou melk (wanneer dié kookpunt bereik het) gevoeg. Roer die pot. Voeg by en roer totdat al die frummels in is. Pasop vir die frummels aanmekaar laat klont! Hierdie mengsel kook ek oor ‘n baie lae hitte – gewoonlik so ‘n driekwartuur tot ‘n uur of totdat jy voel die melkkos dik genoeg is vir opskep.’n Geurige lagie kaneelsuiker word na die opskep oorgesprinkel.

Vir my is hierdie melkkos die lekkerste ooit. By my skoonma het ek destyds kom leer om melkkos met boerewors te eet – dis altyd so voorgesit. By my eie ma het ek boeremelkkos geëet – wit, groot klonte en baie kaneelsuiker maar hierdie resep wat ek hier deel – hy vat jou op ver paaie na eksotiese plekke.


pikkie se melksnysels


met die laat die laaste groot kouefront komende naweek die kaap gaan omhul en melksnysels ‘n winter lief-vol-kos is dit vanaand sy beurt

ek onthou toe ek ‘n kind was en in die wintervakansies op pinewoods, langs neethlingshof , by oom thys en pikkie hattingh gebly het, bedags het ek saam gery winkel toe en dan het ek daar gehelp, saans as ons tuiskom, was die kaggel aan en het ons bredies voor die vuur geeet.

pikkie het ‘n wonderlike huishulp gehad, maria, en sy het na pikkie se hand gekook, die bredie was altyd in ‘n erdkom in die louoond gebere en saam met dit was daar  ‘n bakkie rys , bruinbrood en botter en soms soet pampoen of patats.

ek was baie geheg aan pikkie. na die vakansie het oom thys my in die citroen gelaai en gaan aflaai by my ma-hulle wat in die paarl gebly het. sulke dae was groot hartseer dae vir my en ek dink ook vir oubaas thys en mem.

ewenwel dan vra pikkie : neil wat kan ek more vir jou maak vir die pad, dan se ek melksnysels pikkie, dan sit sy en trek lang trekke aan haar sigaret [ sy het skelm gerook ] en se : dit is goed so

vroemore dan hoor ek haar die luike oopskuif en in die kombuis werkskaf en dan as die tyd kom dat ons moet ry kry ek my lang bruin kleibeker melksnysels. nou kyk al wat ek kan se is dat ek altyd agter in die kar gesit het , omdat ek nooit wou he oubaas thys moes sien hoe die trane oor myse wange gerol het nie. miskien is dit die ekstra sout  van my oe se water wat haar snysels so besonders gemaak het

500 ml meelblom

3 eiers – effens geklits

2 ml sout

2 l volroommelk

1 e botter

kaneelsuiker

pypkaneelstukke

maak ‘n stywe deeg aan van meel, eiers, sout en ‘n bietjie melk en knie totdat die die deeg elasties is. rol die deeg baie dun uit en laat staan vir 10 minute om effens droog te raak. sny in 5 duim repe, strooi meel oor , en pak bo-op mekaar, kerf dan die deeg dun – dink aan pasta repe – so 1 cm by 2.5 cm stukke. skud die snysels los van mekaar en strooi in melk wat by kookpunt is waarin jy ‘n paar stukke kaneel gegooi het. kook sowat 15 min lank oor lae hitte tot die snysels gaar is. voeg botter by en skep in warm sopborde, strooi kaneelsuiker  en bid vir al die engele op aarde.


Follow

Get every new post delivered to your Inbox.

Join 875 other followers