gisteraand was ek ‘n gas op ‘n soutenpeper plaas. ‘n plaas wat so elegant tog diskreet, met soveel eenvoud en styl bymekaar gesit is, dat ek telkens in gesprek oor my woorde gestruikel het.
‘n tien akker tuin is aangele in soveel visuele- en smaakstyl dat jy voel of jy die eregas is in die kompanjiestuin van jan van riebeeck homself.
jy stap in perskespitpaadjies en waar jy kyk staan groente, mooi netjies in blokke geplant, met roosmaryn as heinings. sien spinasie, radyse, artistjokke, rape, groenertjies, eiervrug, knoffel, koejawels, kumkwarte, patats, pampoen, lemoenbome, vye, suurlemoen, lemmetjie, okkerneute, en die soetse grootste aarbeie onder teen die stroom.
lanings van rose, clivias, afrikaners en ‘n tuin vol kruie en geurmalvas
en die kos
jy eet die kos van die tuin, hope jong beet aan hul stingels, patats gebak in die skil met botter, gebraaide eiervrug, growwe koolblare gevul met rys en vleis, filet van bees gegeur met sout en peper, soetbitter sjokolade truffels, koejawels op sosatiesstokkies, gekerfte plaasbiltong, dun repe ham onder heel hamme wat hang uit die dak, ‘n legio van buite-oond-bak-brood, kumkwarte in suikerstroop, tuisgemaakte plaaskase – ‘n oesfees van kos
by die groente was bakke vars knoffelmayonaise, geroosterde sesamesaad, geroosterde , brazil en okkerneute en bakke met gegeurde sout
die restaurant se naam is babel en jy kan aansit vanaf 15 november , by ‘n eenvoudtafel van aardkos uit die grond van babylonstoren 021 863 1804 – elmien
met die proe vat die geursoute en ter ere aan die eienaars van die plaas – plaas ek vandag sout van die aarde resepte
ons vergeet soveel keer dat ons, ons daaglikse sout met ‘n bietjie kombuistower in ‘n soutsmaak sensasie kan stuur wat elke koop-winkelrak-sout laf sal laat proe
roosmarynsout
1/2 k growwe seesout of maldon
2 t vars roosmaryn
gooi die roosmarynblare in jou vysel, maak fyn met jou stamper, gooi die sout by en roer goed deur, los op ‘n warm plek tot die sout al die vog van die roosmaryn gedrink het. bere in ‘n skroeftopbottel, gooi oor sontamaties, sag gekookte eiers, braaihoender en roosterbrood
suurlemoen- en of lemoensout
1/2 k seesout of maldon – beste
2 e fyn gerasperde groen gedeelte van lemmetjies en of lemoen
meng al die bestandele saam , laat staan ‘n ‘n warm plek vir 30 minute. gooi in skroefbottel. gooi op vars geroosterde vis, of op gebakte of gekookte aartappels en als anders wat jou tong begeer
laventelsout
1/2 k growwe seesout of maldon
3 e gedroogte laventel
breek die laventel in stukkie met jou vysel, meng met die sout en vryf beesvleis, hoender en groente met die laventelsout voor jy dit rooster
sout en peper
gooi peperkorrels : wit, swart en gekleurdes in ‘n baie warm pan, rooster om die geur te ontwikkel , roer die heel tyd. gooi in vysel en stamp fyn , meng met jou vloksout – geniet
