my niggie skryf na aanleiding van my stadsaal dansstorie
Dit was ook die dae van pons / punch / bole (my Duitse skoonmense). Wie het nog die resep? Daar het mos so ‘n groot glasbak met pons gestaan met ‘n diep skeplepel. Iemand het die naweek op Uilkraal se strand onthou hoe die Duitsers kon “party” en die groot houers met bole wat altyd deel daarvan was.
ek onthou ook die pons – ons het dit bola genoem , dit was baie grend om pons uit die groot glasbak te skep met of ‘n glaslepel of ‘n ou silwer soplepel , as kind het ek altyd gedink dat net goudvisse in sulke bakke woon en groot was my verbassing toe ek die ponse aanskou en al wat rooi aarbei daarin sien dryf. soms was daar komkommerhalwes, ander kere pynappel, druiwekorrels, wortelstokkies en mentblare.
as ons pons gedrink het die grootmense gedans en my pa-hulle het later die aand swartvark gespeel, tot groot onsteltenis van my ma. ons as kinders het die pons geniet en altyd vir onsself aan die grootmense s’n gehelp wanneer daar ‘n geleentheid was, dan het ons vreeslik gespeel en onder die tafels aan die slaap geraak, terwyl die grootmense heerlik verder gekuier het.
die geheim van ‘n pons is dat hy yskoud moet wees. in die outyd het hulle ‘n sierring van ys gemaak. jy het water onder in ‘n bak gegooi en in die water was roosknoppies, blou viooltjies , mentblare en veldbrame. jy laat die bak vries en sit die vrieswolk van ys onder in die bolabak – om die bola yskoud te hou – ysblokkies is geneig om die bola te laat water trek en was dus taboe in korrekte bola.
jy het om die kante lemoenskywe wydsbeen gesit wat jy met rooi kersies gegarneer het en as jy supergrend was dws mevroudokter of mevrouskoolhoof of mevroudoktorprofessor het hy jou ponsglase in suurlemoensap gedruk en daana in rooi gekleurde droe jellie. die glase word dan gelaat om hard te word. as een of andere hogere spreker na die dorp gekom het het bogenoemde voorvroue babadruiwetrossies uit die groot trosse gesny en dit dan in eierwit gedoop en daarna in versiersuiker – die versuikerde trossies is dan oor die kante van die ponsbak gehang.
ek plaas ‘n paar resepte
pynappelpons
300 ml suiker
300 ml water
500 ml rooibostee
250 ml gerasperde pynappel
750 ml pynappelsap
250 ml suurlemoensap
500 ml lemoensap
250 ml somerspanspekballetjies
1 l sodawater
los die suiker op in die water en kook tot al die suiker opgelos is. haal van die stoof en voeg die tee by. laat afkoel. voeg al die ander bestandele by behalwe die sodawater. sit in die yskas. met opdien sit jou blom ysring onder in die ponskom. gooi die koue sap en vrugte in en net voor die gaste arriveer , die yskoue sodawater.
druiwepons
1 l druiwesap rooi of wit
70 ml suurlemoensap
2 koppies ontpitte , geskilde druiwekorrels wat jy in die helfte deursny
1 l gemmerlimonade
meng alles behalwe die limonade en verkil goed. maak ‘n ysring van ys en druiwe. gooi die yskoue druiwe en sap in die bolahouer en daarna die limonade, garneer met die versuikerde druiwetrossies – jy kan die of net met wit druiwe en sap maak , of met rooi druiwe en sap.
sjampangepons
ek noem hom sjampagne – want dit is wat pikkie dit genoem het en sy was lief vir pienk sjampagne [ sjampyn]
3 bottels sjampagne
6 e brandewyn
4 e witsuiker
skyfies dun lemoen, piesang en pynappelblokkies
maak alles baie goed koud en meng saam net voor jou gaste arriveer, bedien in marie therese sjampanjeglase – volgens oorlewering is die glas se vorm op haar bors geskoei
tamatiedrankie
1 e worcestersous
1 kg bloedrooi sontamaties, ontpit, ontvel en fyngemaal
1 t sout
1 t witpeper
1 t selderysout
1 gerasperde komkommer
1 e fyn gerasperde witui
meng al die bestandele saam. as jy wil kan jy 1 koppie vodka ook ingooi. net voor jou gaste arriveer gooi jy die tamatiesap deur ‘n sif en bedien in langglase, op ‘n silwerskinkbord, met ‘n stukkie selderyblaar wat bo langs die kant uitsteek
aarbei- en wynpons
3 bottels droe witwyn
2 l yskoue sodawater
120 ml brandewyn
1/2 komkommer geskil en in blokkies gesny
1/2 k suurlemoensap
3 e suiker
3 k vars aarbeie, gehalveer
meng 1 bottel witwyn met die komkommer. laat dit staan vir ‘n halfuur. gooi deur ‘n fynsif en gooi die komkommer weg. meng al die ander bestandele behalwe 2 bottels witwyn en die sodawater. laat die mengsel yskoud word. die orige witwyn en soda moet ook yskoud gemaak word. net voor jou gaste aan die deur klop meng jy alles saam , gooi dit in die ponskom en sit dit op die tafel met die glase en die massas pronktuinrose.
hoe meer ek lees hoe meer leer ek en hoe meer onthou ek – dit was regtig ‘n voorreg om te onthaal en elke gasvrou het probeer om haar geleentheid meer spesiaal as die ander sin te maak.
ek onthou laatnag hoe ek onder die tafel opgetel is en gedra is motor toe en dan weer later uit die motor in die bed met die stywe witlakens en die wolkebers [ kombers ] in, as kind het jy ‘n verlore slaap geslaap , omdat jou siel gelukkig was.