Category Archives: wenke

hier ‘n koek, daar ‘n koek – ‘n tafel vol koeke


as dit by bak kom staan ek agter in die tou, want ek kan nie weeg nie, nog minder afmeet, nog minder ‘n resep volg. al wat ek reg kan bak is ‘n gooi-bymekaar brood en skons. as dit by skoukoeke kom val myne altyd plat in die middel of kraak van oor tot oor.

op skool het ek altyd sjokoladekoek gebak vir die klasvriende, my geheim was gemengde vrugtekonfyt. as daai koek uit die oond kom met ‘n middel wat ‘n duik maak, dan skep ek hom vol met konfyt. ek het ook menigte keer ‘n kondensmelkblik laat ontplof laat al wat leef en beef plafon gewas het.

ewenwel ek lees in ‘n baie ou resepteboekie die volgende koeke raak. vir die van julle wat kan bak – geniet dit – ek hoop dit smaak soos ‘n skoukoek. en nooi ‘n slag mense oor vir tee, daar is min goed wat ‘n huis lekkerder laat ruik as ‘n koek in die oond. bedien saam met potte vars tee, melk, tuinblomme in kristal en rustige jim reeves op die hi-fi

laat my dink elke jaar met die skou dan word die gemsboksaal in upington skoongewas, die stywe driehoekruiker in die voorportaal met draperings van of goiing of witlappe en binne in die saal staan die bokkietafels.  so ver as die oog kan sien, staan daar windmakerige koeke, spoggerige terte , perfekte beskuit en kleinkoekies als met eerste , tweede en derde pryse. op die volgende tafel kry konfyte die beurt saam met fyngebak en op die derde tafel die spogblomme, rose so groot soos twee hande, dahlias en al wat ‘n voorblom is.  rondom staan al wat ‘n vlv voortannie is en pronk soos ‘n kropduif met die hare wat perfek geblaas is vir die dorp-se-skou.

en langs die gemsboksaal staan die skape, skoon gewas en geknip en al wat boer is staan trots die kondisie van sy gediertes en betraag – die afrikaner is voorwaar ‘n spognasie

ek het altyd graag deurgestap, my verwonder aan die gebak en die trots van die vrouens, het die hekel- en breitafel vergeet, die was ‘n belewenis in babablou, pienk en sagte geel.

die koektafel met ou-se-dag resepte

roomkoek

klop 4 eiergele [ groot ] en 1 k strooisuiker saam tot baie lig. klop 1 k room tot dit baie dik is. vou dit in die suikermengsel. sif 1 en 1/2 k meelblom drie keer saam met 1 t bakpoeier en ‘n knypie fyn sout. vou die suiker en roommengsel in die gesifte meelmengsel in. vou nou 4 styf geklopte eierwitte in. bak teen 180C in voorfafverhitte oond in koekpan wat met botter gesmeer is en met papier uitgevoer is. versier met room en tuinaarbeie

tennisbeskuitjie koek

klop 1/2 k botter saam met 1 k suiker tot ‘n room. gooi 3 groot eiergele by en klop baie goed. rol 1 pakkie tennisbeskuitjies fyn en sif dit om die beurt met ‘n 3/4 koppie volroom melk by. vou 3 styfgeklopte eierwitte in. strooi 3 t bakpoeier bo-oor en meng goed deur. [ die deeg moet slap en geskif wees ] vryf drie laagkoekpanne met botter, voer uit met papier, verdeel die beslag en bak in ‘n vooraf warmoond 350-400 F tot gaar. laat die koeke afkoel. wanneer die koeke koud is smeer jy hom met jou eie appelkooskonfyt en ‘n diklaag room, herhaal en sorg dat jy met room bo-op eindig.  sprinkel met fyn tennisbeskuitjies en versier met bloedrooi glasuurkersies.

veerligte koek –  vir drie geslagte al beproef

klop 1 k botter en 1 k suiker saam tot skuimerig. los 1 t koeksoda in 1 k melk op en klits dan by bottermengsel.  sif nou 1 k meelblom drie keer saam met 2 t kremetart en roer in die beslag. voeg nou 3 eiergele by en nog 1 koppie meelblom wat jy ook 3 keer gesif het. as die beslag goed deurgemeng is, vou jy 3 styfgeklopte eierwitte in. meng mooi deur en bak in vooraf verwarmde matige oond tot gaar. bedien die koek skoon  saam met rooibostee en kondens-se-melk.

kyk om drie sulke lekker koekresepte te he wat so maklik sal bak , is werklik ‘n voorreg. in die ou dae het niemand ‘n resept gedeel nie, watwou dit was familie erfgoed;  jy is met jou resept graf toe en indien jy hom ooit sou uitdeel het jy altyd ‘n ietsie van die resep verkeerd oorgedra, nou nie so dat die jirre jou sal straf nie, net so ‘n ietsie, want kyk die mense moet darem se dat joune steeds beter proe as hulle s’n

geheime van koekbak

sif altyd jou droe bestandele 3 keer saam

moet nooit die oond binne die eerste 20 minute oopmaak nie

veeg jou panne met botter en plaas dan botterpapier in elke pan

bak altyd koeke op die middelste rak van die oond

waar jy kan, sorg dat die bakpoeier laaste in die beslag ingaan – dit maak die koek lig

meet altyd jou bestandele noukeurig af

leer ken jou oond – elke oond se 180 C is anders as die volgende oond

gebruik altyd ekstra groot vars eiers. ‘n vars eier sal sink as jy hom in ‘n bak met water sit.

gooi ‘n knippie witpeper in elke koek

en om af te sluit die heerlike moderne , tjoklit koekresep van carmen niehaus – volgens haar is hy flatervry en diep lekker

stroop

265 ml suiker
275 ml water

beslag

250 ml (1 k) koekmeel
30 ml (2 e) bakpoeier
knippie sout
250 g (1 k) botter
125 ml (½ k) strooisuiker
200 g donkersjokolade
5 ekstra groot eiers
30 ml (2 e) kaapse brandewyn

versiersel

200 g sjokolade met haselneute
30 ml (2 e) melk
Voorverhit die oond tot 180 °C.
Smeer en voer ’n diep koekpan
(24 cm in deursnee) uit met bakpapier.

stroop

Verhit die suiker en water in ’n kastrol, bring tot kookpunt en laat prut sowat 10 minute.

beslag

Sif die meel, bakpoeier en sout saam in ’n groot mengbak. Smelt die botter, suiker en donkersjokolade in ’n dubbelkoker of in ’n glasbak oor kookwater. Verwyder van die hitte en klits een eier op ’n slag by. Klits goed ná elke byvoeging. Giet die brandewyn by en roer tot gemeng. Vou die gesifte meelmengsel by die eiermengsel in en meng alles goed. Giet die beslag in die voorbereide pan en bak 40-45 minute of tot gaar. Verwyder die koek uit die oond, prik dit ‘n klomp keer met ’n toetspen en giet die stroop oor. Maak die kante los sodra die koek afgekoel is en keer dit op ’n koekbord uit.

versiersel

Smelt die sjokolade oor ’n lae hitte of gebruik ’n dubbelkoker. Roer die melk by en roer tot ’n gladde sous vorm.
Giet die sjokoladesous bo-oor die koek

bedien met moerkoffie, bruinsuiker en slagroom.


erfeniswenke vir jou huis en die kebuis


almal van ons ken boereraad en wenke wat in die loop van ons lewe oorgedra is en in elke ou resepteboekie wat sy sout werd was, kon jy lees van die raad wat van grootmoeder-na-ouma-na-ma, en van ma-na-ma-se-kind oorvertel is. daar was raad vir alles en die raad is uitgespreek met ‘n t.

my oupa koot het my vertel hoekom ‘n huis ‘n solder had en hoe dit ‘n huis afkoel, hy het my opgevat langs die huis met die skuifel-groen- houtrap, altyd met sy hoed op sy kop tot bo in die dak wat die ou mense in ‘n A vorm gebou het. daar was twee deure : een aan die een kant en een aan die ander kant – die lug kon dus deurtrek en die warmlug uitvat. oupa het ook geglo in nat goiingsakke wat in die februarie-hitte van die somer op die houtvloer van die solder gegooi is. toe ons die huis hier by die see bou het ons al die vensters so gebou dat hulle oor mekaar kan trek, dus is die huis altyd koel in die somer.

tante pikkie het my geleer dat die beste manier om ‘n kristalkandelaar skoon te kry is om hom te laat afhaal een maal per jaar , hom dan buite op die wasgoeddraad te hang en hom sorgvuldig met sunlightseep water te was, jy kan ook spirituswater gebruik, asook asyn of suurlemoenwater of ‘n paar druppels ammoniak. sy het my ook geleer dat die beste manier om kristal skoon te maak is om jou flesse met nat koerantpapier te stop tot hulle keelvol is en dit dan uit te spoel in kookwater.

vir wit linne vertel agnes van ashbeys dat sy alle kolle uitkry deur die kol in te vryf met sunlight seep, die servette dan in die son te laat le tot die son sy werk gedoen het en daarna die servette te was. jy kan ook koeksoda meng met asyn en dit dan in die vlekke vryf, laat le dit oop in die son, tot die son hom droog gebak het, voor jy dit was.

om vliee weg te hou het die ou mense hulle se ruite met koerantpapier gewas waarop hulle ‘n paar druppels ammoniak gegooi het. ons het altyd vars basiliekruid in le must se vensters gesit – vliee hou niks van die reuk nie, ook nie van mentakkies nie. jy kan ook bakkies asyn neersit en jou gloeilampe met kasterolie opvryf, dan sal vlieg-se-kind nie daar gaan sit en mis nie.

moet nie die vismotgifballetjie vergeet nie, ons pak dit altyd tussen die winterkomberse en klere, g’n kriek of vismot sal dan gate kou in jou wintergoed nie en jy sal sommer weer jou ouma verlang oor ek haar steeds herken aan die reuk van die wit balletjies.

ons maak politoer vir ons meubels deur olyweolie te meng met suurlemoensap, dit verwyder die vetterigheid en voed die meubels. jy kan ook byewas met ‘n bietjie terpentyn meng vir ‘n eie olie. om jou leermeubels te voed : vryf dit in met volroommelk en as jy vir die een skrik vryf die meubels in met petroliumjellie, laat staan hom oornag en vryf hom blink die volgende dag

tante pikkie het haar koper skoon gemaak met suurlemoen wat sy om die helfte gesny het, dit dan in sout gedoop het en die koper ordentlik  gevryf het.

muskiete hou niks van laventel nie, smeer jou bene met laventelolie saans as jy buite braai en plaas ‘n bakkie laventelolie langs jou bed – jy sal sommer ‘n baba-se-slaap-slaap, omdat laventel moedernatuur se eie geliefkoosde ontspanninggeur is. voor jy die slaap gaan slaap vat ‘n lang warm bad in water waarin jy roosmarynblare en twee koppies engelsesout gegooi het – jy sal voel of jy op ‘n ver vakansie was na die nag-se-rus

een van die beste somerwenke om die koskaste miervry te hou, is om om sand te meng met ‘n bietjie paraffien en dit dan onder die pote van die kas te sit. ek onthou ook babapoeier, rooipeper of koeksoda al waar die miere se paadjie loop. jy kan ook die area was met warm asynwater. een van die snaakste wenke wat ek raakgelees het is om korente in kasterolie te kook en in die pad van die miere te sit – genade

as jy sukkel met kokkerotte sit bakkies koeksoda uit, dit is ‘n kokkerot se moses, hy sluk hom en dit laat swel sy maag en dan is hy dooie kokkerot.

as jy sukkel om ‘n taai etiket van ‘n glasbottel af te kry smeer die plakker met brasso of kookolie

ek is so lief vir diere en bad hulle graag, die beste wasmiddel is jou aartappel-se-afkook-water

as jy ‘n kind wil kry om op te hou om sy naels te byt smeer sy naels met bitteralwyn en ‘n vy se melk is ‘n vraatjie se doodsteek.

die beste ding om ‘n wingerdgriep hok te slaan is ryp piesangs fyn te maak en saam met melk en heuning te klits tot ‘n heerlike melkskommel, en eet met jou opstaantyd ‘n bord met bakeiers en spek, en voor jy gaan slaap ‘n glas soetsuiker koeldrank, baie water en twee hoofpynpille.

koswenke

een van my beste koswenke kom van bix visser van upington. sy het altyd vir my gese : niel as jy reg wil kook moet jy altyd ‘n knippie sout gooi by jou soetgoed en by jou soutkos altyd ‘n knippie suiker.

as jy eierwitte wil makliker styf he, gooi ‘n knippie sout by. as jy lewer het wat taai is , week hom vir 4 ure in suurlemoensap. as jy vleis wil sagmaak gooi papaja of vars pynappelsap oor.

as jy uitgebraaide vet wil vars hou kan jy ‘n paar naeltjies daarin sit na dit dit koud geword het.

beskuit bly langer vars as jy suiker strooi onder in die koekblik.

ons wat by die see bly gooi ‘n paar ryskorrels saam met die sout in die potte, dit hou die seeklam uit die sout ‘n droe ertjiepit in jou peperpotte.

asyn en suiker by uie smoor dit mooi goudbruin

as jy ‘n vleispatei bak, smeer jou deeg met mayonaise in stede van geklopte eiers, mayonaise is ‘n uitstekende smeermiddel vir oondbakvleis, sorg dat jou vleis droog is en vryf in met mayonaise , daarna kan jy hom looi met jou ander geurgoed.

die goue reel is dat jou vleis by kamertempratuur moet wees voor jy dit gaarmaak. ek was ook nie skaapvleis af nie, sy geurigheid is beter as jy hom net so gaarmaak. die beste temprature vir oondbak is as volg : skaap/lam/bees/vark alles op 140C – hoender en vis op 200C

as jy aartappels kook gooi altyd ‘n stuk suurlemoen by, dit hou die aartappels wit en die pot skoon, ek kook blomkool, spruitkool, gewone kool alles saam met suurlemoen.

as jy uie in slaai  gebruik , sny die uie, gooi kookwater oor , laat staan vir so 2 minute, gooi die kookwater af, gooi in kouewater en siedaar jou uie smaak soos tuisgetrekte uie. as jy uie skil en jouse oe brand , kou ‘n stukkie bruinbroodkorsie, die het ai eva nog vir my geleer. en om die uie se reuk uit jouse hande te kry was jou hande met suurlemoensap.

as jy suurroom wil maak, gooi so ‘n eetlepel karringmelk by en laat staan oornag buite die koelkas, of ‘n japtrapraad is suurlemoensap wat jy deurroer tot hy sy regte suur het.

as jy te veel sout in jou bredie het, gooi ‘n rou aartappel in en hy trek die sout uit, jy kan ook bruinsuiker probeer.

laat le ‘n suurlemoen en lemoen in warm water voor jy hom uitdruk of rol hom met die palm van jou hand – jy sal voel hoe die sap begin loskom binne-in

as jy bredie kook, gooi ‘n groot klont koue botter by net voor jy hom bedien, roer deur en sit voor – heerlik

rys smaak ook lekkerder as jy hom stoom met ‘n stukkie suurlemoenskil en ‘n rafel vars rasperneut

daar is duisende wenke vir kos, met die tyd saam sal ek hulle hier bylas en as jy wenke het stuur seblief aan.


Follow

Get every new post delivered to your Inbox.

Join 890 other followers