bestel jou eie getekende kopie van bitter+soet

bestel jou eie getekende kopie van bitter+soet – epos / faks soutenpeper1@telkomsa.net of 054 3327830 

Lees aan


die reuk van skaapribbetjie

My vriendin Renata Coetzee skryf in haar Africana kookboek : spys en drank, van vanmelewe se dae en hoe vuur en braai sinoniem is met onse volk. In daardie jare toe die trekkers uit die kaap begin trek het, ver die vlaktes in, was braaivleis onbekend. Die vleiskos was sosaties wat gemarineer is in asyn, soutrib en ‘n jong bokkie wat langs die pad platgetrek is en in sy heelgeid op die kole geoffer is.

Agter die middag is die kakebeenwa uitgespan, die wakis uitgepak en die groot vuur aangesteek, beide om hitte te verskaf, vleis gaar te maak en ook om die ongediertes weg te hou. in die stilte om die vuur is die jonk bok oor die kole gerooster, die soutrib gebraai, roosterkoeke gemaak, asbrode in die vuur gebak en koffie afgekook vir more se langpad die toekoms in.

Om die vure sien ek oë wat die vuur instaar, elk besig met sy eie gedagtes. Die groot vader wat uit die nederlandse bybel lees en dan die stories van sy ouers en hulle se ouers en ook sy drome van more in die onbekende land deel, met die familie wie se ore bakhand sit en wag vir sy woorde.

Daar is ‘n edelheid aan die geknetter van vuur, vonke wat die lig indans en soos vuurvliegies die warm ligstrome ry, die gemurmer van stemme as jy ‘n ent weg van die vuur na die gloed van die mense neffens die vuur kyk. Die beeste wat gras eet, hier en daar ‘n bulk, ‘n perd wat runnik en dan die stemme van die nagdiere wat mekaar roep oor die vlaktes. En oor dit alles waak ‘n uitspansel van ‘n hemel so swart dat jy die blou daarin kan lees.

Die reuk van veld is enig, vir my is soetgras, kameeldoring, plate bottergeel duwwelstjiesblom sinoniem met die kalahari. Die reuk van die reent voor sy val , as haar voordansers haar aankoms aankondig. Die reuk van son op ‘n man se vel. Die reuk van houtstompe wat brand, moerkoffie wat trek, vleis wat bros braai – die vet wat drup – drup in die kole stoom blaas. Die reuk van die natuur en mense saam in een simfonie van wedersydse respek.

Dit is of ‘n kampvuur die woorde in jou losmaak. Elke man het ‘n diepkant, meeste steek dit goed weg, maar as jy hom ‘n kampvuur gee en die stilte van ‘n kalahari nag sal hy later die deur van sy hart oopsluit en die man daar binne tyd gee om sy woorde te vertel.

Uit my boek sout+peper die volgende storie oor skaaprib: ek het ’n vriend in die kalahari gehad by name jopie botes. jopie was ’n kneuwel van ’n man. en ook ’n man vir die veld. sy mond kon jou stories vertel terwyl sy oë ver die vuur inkyk. nou jopie, het sy rib so gemaak: die rib het die vorige nag al buite gehang om goed droog te raak. hy het dit op sy manier gesout en gegeur met sout, gemaalde witpeper en koljander. dan laat-maak-staan hy die rib teen 45°C so skuins teen die vuur in ’n rooster met die ribbes na die vuur. dan braai jy stadig die vet uit uit – later draai jy dit om en dan gee jy weer die vetkant vuur. so braai jopie vir ure. later is jy al agter jouself gekuier, maar jopie se rib braai steeds.

einde ten laaste, is daar teen die rooi sandduin geëet. nugter kan onthou wat jy saam met die rib geëet het – seker brood – en dan as die maan al hoog sit en die jakkalse begin tjank, dan het jopie sy pad teen die duin afgestap en onder, weg van ons, sy lê gaan kry vir die nag – rede is die man kon ’n leeu wakker snork.

in die stilte van die kalahari-nag het ek gelê en verwonderd die hemel beskou. as ek my hande uit die slaapsak sou haal, sou ek sekerlik ’n paar sterre kon pluk om in my broeksak te hou.

soutenpeper1@telkomsa.net

IMG_3581

Lees aan

snoek met appelkoosbotter


koop ‘n vars gevlekte snoek

meng:

½ k fyn appelkooskonfyt

½ k witwyn

3 knoffelhuisies [fyn gekap]

1 e botter

1 e olyfolie

knippie vars neut

knippe kerriepoeier

knippie fyn gemmer

knippie rooipeper

1 e fyn gekapte vinkelblare

die sap van ‘n suurlemoen

gooisel van tabasco

sout

gemaalde witpeper

 

Sout die snoek goed en laat staan vir 10 minute, was af en klad droog. Smeer die sous oor die vleis van die snoek en sit in jou yskas. Wanneer jou vuur reg is plaas jy die snoek op jou geoliede braai met sy vleiskant na onder en braai vir 2 minute. Draai om en braai die vis tot net gaar – so om en by 8 minute.

 

Eet met jou vingers, [hou die jammerlappies naby], snye gebotterde anysbrood en korrelkonfyt.

uit agter+blad erfeniskos 

 


back+page : wonderful book of stories


 

Hi Niel

Greetings from a sunny Noordhoek today!

I have just returned from a month away and rushed in to collect my ordered

copy of “Back + Page” – and of course, the July issue of Home.

Settled onto the couch with a lovely cup of Earl Grey in Granny’s thin

china bone porcelain tea cup to savour the back page – my absolute treat.

“An age of elegance” and of course, like always, with your wonderful

writings… it transports one to the era of refinerary and manners and values.

I just love it.

THEN…  I opened my new book… (always smelling a new book – cant do that

with digi stuff) and looked at the index turning immediately to Chapter 12 –

december – in search of silent night (one of my very favourites that inspired me

to write to you initially) and once again, it was like reading it for the first time.

I got goose bumps.  But, was I blown away when I turned the page and saw

my letter to you – I could not believe my eyes – thought I was imagining it!

Unfortunately, the publishers have spelt my surname incorrectly (Cramer – not

Crame) but on reading it – I knew it was my letter.

Wow!  I am truely and utterly humbled and honoured to be placed within

your wonderful book of stories.    I am speechless Niel!   Thank you – it

means more to me than you will ever begin to understand – maybe one day,

I will be lucky enough to have a cup of tea with you and tell you why.

Do you believe in fate?

This publication, will remain with me till I have finished my earthwalk here

and be left to a special friend because there are so few people these days,

than can take us back to our childhood and growing up as you do.

You truely Niel, have a special gift.

Please let me know when your next book is out but in the meantime, I have

something to look forward to – reading this from cover to cover.    I have torn

out all you back pages and have them in a file and on the low days (thank heavens,

not many – I am so lucky) – I haul them out, and read them…. and my smile would

light the universe.

Thank you so much.

Warm wishes and may I be so bold – a big hug.

Mandi (cramer)

 


Pikkie se groenboontjiebredie en soetpatats


Pikkie se groenboontjiebredie

 

1.5 kg skaaprib in stukke gesny                       

3 plaasuie gekap

3 tamaties ontskil en gekap

2 e botter of skaapvet

meel

sout

witpeper – genoeg

 

Rol die vleis in meel, sprinkel met sout en peper. Gooi die vet/botter in jou brediekastrol. Braai die uie saggies tot goudbruin. Skep die uie uit en braai die vleis bietjie vir bietjie tot goudbruin. Voeg nou die gebraaide uie by, asook die gekerfte groenboontjies, en die tamaties en ‘n klein bietjie water. Stowe saggies. Na ‘n ½ uur sit jy 6 afgeskilde aartappels wat jy in kwarte gesny het bo-op die bredie. Stowe tot die vleis sag is. Gooi klein bietjie suiker by om smaak te verbeter. Met opdien roer jy die sap van ‘n tuinsuurlemoen en ‘n groot eetlepel koue botter deur die bredie.

 

Gebruik ‘n potysterkastrol. Onthou om elke stukkie vleis in meel te rol voor jy dit bruinbraai in die botter. Skaapvleis is baie lekkerder as lam wanneer jy bredie kook. Die meelvleis gee ‘n lieflike geur en die meel help om die bredie nie waterig te maak nie. Die bredie moet ‘n pepersmaak hê. Hoe langer die bredie staan en trek hoe lekkerder raak hy, dws jy kan die bredie die vorige dag maak. Ons het altyd bredie saam met bruinbrood en botter geëet, natuurlik ook met witrys wat die bredie abba. En altyd soetpatats.

 

 

soetpatats

 

Sny warm gaar gesnyde patats in skyfies. Sit in yster oondkasserol en gooi dan gesmelte botter oor. Stooi suiker dik bo-oor. Sprinkel met kaneel en ‘n knippie fyn gemmer en sout. Bak goudbruin in ‘n warm oond.

 


‘n nuwejaarswens vir jou


‘n nuwejaarswens in 2014 vir jou

 

Ek wens my woorde was so kosbaar soos tyd, dat jy as leser jouself daarin sal sien en jouself daarin verweef. Is ek die skrywer of is jy? Komaan dié is jou woorde ook, sien dit raak.

 

Die lewe wat jy leef, waar begin en eindig jou leef, in die pad van jou eie lewe? Die stilte wat jy in jouself kry, as jy soms jouself van buite jouself sit en kyk en wonder wat in jou kop aangaan.?

 

Is dit ek wat leef in my lewe of is ek net ‘n eie marionnet van wat ek dink, my lewe vir my uitspel. Lê dit wat goed en kwaad is my teen die hart met deernis vir myself bedoel of raak die kwaad ‘n juk wat ek my lewe deur dra, my terughou soos ‘n rek wat vorentoe beur, dan weer vergeefs terugskiet. Weer probeer om te ontsnap uit my eie gevangenis van wat ek dink is eie kwaad?.

 

Sien ek die groen in die lusernland wat voor my oë uitstrek, of is dit myse oë wat kyk. Sien ek die wit seevoels wat voor my krys of is dit my oë. Is die strand wat voor my uitstrek bedoel vir my voetspore om tree te gee wat wel my eie is.

 

Hoeveel keer voel jy asof tyd stilstaan, of sekondes werklik die tyd van ‘n sekond is. Ek koester  die oomblikke, bewaar dit soos kleinnode. Ek kyk hulle altyd van buite. Hou myself vas en sê: dié is een van daai eenmaal oomblikke. Weet jy, besef jy – ja dit is?.

 

Ek sit op ‘n vlug van Amsterdam na Kaapstad en kyk ‘n film oor ‘n treinreis na Lisabon, ‘n stad wat ekself nog nie verken het nie. Die rolprent se dialoog is sterk, suiwer, soos kou water in jou mond op die hitte van die somerdag. Ek drink die woorde van die teks in, is dit moontlik dat dié film my eie lewe dialoog?. So voel ek nou.

 

Daar is min goed wat so treffende is as wanneer jy ‘n boek lees, of ‘n film kyk en jy jou eie woorde daarin lees. Miskien leef ons mekaar se woorde vir mekaar, oormekaar, deurmekaar tot die woorde net herhalings word van gebeure wat onse lewens laat tiek.

 

Ek is ‘n filosoof, van klein-se-tyd af kon ek my verkyk na stilte. Hoe die miere stap rye op rye, altyd al groetend vir mekaar. Leef ek vir woorde wat kom nesmaak in my siel, woorde wat soos bonte wasgoed, sing aan die droogdraad. Woorde wat sinne maak, kort sinne. Miskien is dit was ons meer moet doen. Kort sinne skryf. Kosbaar vir mekaar. Bedoel.

 

Die tyd van nou is ewig. Gister is verby. More is more. Vandag is my dag.         

 

Sê ek algaar vir myself. En dan voor ek my kom kry vat die tyd my op ‘n waterglybaan waarin ek vorentoe jaag, sonder om die stiltes om my te sien of vas te vang. Stop sê ek vir myself. Staan stil, haal asem, daarshy diep uit jou maag, proe die lug, geniet die lug, voel hoe jou longe deel word van die lug – dit is wat jou laat lewe. Die lug.

 

Maar ook die lig, die lig wat binne in jouself is en jou so ‘n spesiale mens maak. Eie, uniek, ‘n mense mens. As jy om jou kyk sal jy die lig raaksien. Die lig is oomblikke waarin die woorde van vroeër gepraat, jou tot stilte dwing.

 

Sien jy dié jongman wat die tante oor die straat help?. Sien jy dié vrou wat ‘n rooiappel uit haar motor vir die koerantverkoper gee?. Sien jy dié pappa wat sy babaseun se ore sag frommelsoen. Sien jy dié mamma wat saam met haar kinders kleinkoekies bak?. Sien jy dié ouma wat buite op die bank in die park sit en die duiwe voer, terwyl die son se strale haar grysehare kam?. Sien jy dié ouman wat sit met die koue koppie koffie voorhom, uitgestrek soos die leegheid van ‘n ou koerant en die jongkind, wat die bossie plukblomme in sy hande druk. Al dié oomblikke is lig.

 

Lig is oral om jou, jy moet net jouse oë eie maak van jou siel, sodat jy die lig kan raaksien.

 

Ek wens vir jou ‘n nuwe jaar vol lig – oral, en dat jyself lig sal word en ander om jou se ligte aansteek. Ek wens vir jou ‘n jaar waarin jy jou woorde sal raaklees wat jou styf vashou. Ek wens jou die mooiste jaar van leef – steek jou arms uit na die lig, na bo. Kyk om jou word die hele wereld lig.

 

vir Anneke want TUIS is lig.

 

soutenpeper1@telkomsa.net    

 

 

 


komkommer-en druiweslaai


komkommer- en druiweslaai

 

komkommers

somerdruiwe

groen uielowwe

sous

½ t fyn witpeper

1 t fyn sout

¼ t mosterd

1 t strooisuiker

3 e druifasyn

2 e olyfolie

¼ suuroom

Skil plaasvars komkommers en sny in dun ringe, plaas in die yskas toegepak met ysblokkies. Pak die komkommer, uieringe en druiwe in lae in ‘n mooi deurskynende slaaibak. Skud die slaaisous bestandele goed en gooi bo-oor die slaai. As jy bronkors het kan jy rondom die slaai, bronkors takkies indruk.


Follow

Get every new post delivered to your Inbox.

Join 990 other followers